Central SA
Vermiste Bloemfonteinse tiener is veilig tuis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:31 Mon, 31 Aug 2026
“Hy is gevind, hy is veilig, en dit is al wat nou saak maak.”
Duan de Klerk (13) is net ná 09:00 op die Kloofpad buite Boemfontein gevind nadat hy Maandag (31/8) in die Bloemdal-gebied op die gesin se kleinhoewe vermis geraak het. “Op hierdie stadium is dit nog onduidelik hoekom en waarom, maar ons is net dankbaar dat hy veilig is,” sê Sonja de Klerk, sy ma.
“Ek het nog nie vreeslik veel verder met hom gepraat nie. Ons sal nog uitvind wat presies gebeur het.” Duan, ’n leerder aan die Primêre Skool Universitas, het omstreeks 06:30 vermis geraak nadat hy nie soos gewoonlik vir skool opgedaag het nie. ’n Werknemer het hom vroeër die oggend in die veld naby die huis gewaar, waarna sy ma na hom begin soek het.
Geen wagtydperk
Die Vrystaatse polisie herinner die publiek daar is geen wagtydperk voordat ’n persoon as vermis aangemeld kan word nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms.
Daar is stappe wat naasbestaandes kan doen om die proses vinniger aan die gang te kry: Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy/sy aangehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
Vul die polisie se 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede, en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom of haar.
As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. Die polisie se 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se geval uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

