Central SA
Wilgehof-moorde: Vrou kry drie keer lewenslank─── ZENANDE MPAME 16:27 Thu, 03 Sep 2026
’n Voormalige werknemer van die Byenes-dagsorgsentrum in Bloemfontein is drie lewenslange vonnisse opgelê ná ’n driedubbele moord in ’n huis in Wilgehof.
Mpheng Anna Ntsoeu (30) is Donderdag (3/9) in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis ná haar skuldigbevinding aan drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en geldwassery. Regter Corné van Zyl het gelas Ntsoeu se 15 jaar-vonnis vir roof en 10 jaar-vonnis vir geldwassery moet samelopend met die lewenslange vonnisse uitgedien word.
Haar kêrel en medebeskuldigde, Katlego Ronald Moroe, is onskuldig bevind op alle aanklagte omdat die staat nie sy betrokkenheid by die moorde bo redelike twyfel kon bewys nie.
Die Vrystaatse provinsiale kommissaris, lt.genl. Thabang Lesia, het die ondersoekspan geloof vir hul noukeurige en vasberade werk wat tot Ntsoeu se skuldigbevinding en vonnis gelei het.
“Die feit dat hierdie saak as ’n koue saak met geen duidelike leidrade aan die span oorhandig is, maak die uitslag selfs meer betekenisvol.
“Dit was ’n moord wat die Bloemfontein-gemeenskap geskok het en ’n verwoestende uitwerking op die slagoffers se families gehad het. Hoewel geen hofuitspraak ooit die pyn en verlies wat hulle gely het, ongedaan kan maak nie, hoop ons dat hierdie vonnis ’n mate van afsluiting vir die families en almal wat geraak is, sal bring.”
Die slagoffers is Betsie Kruger (66), eienaar van die dagsorgsentrum, haar dogter, Janine (35) en skoonseun, Christo Theron (36). Hul liggame is op 29 Junie 2023 omstreeks 08:50 gekry in die huis in Van Heerdenstraat, Wilgehof, waarin Kruger die sentrum bedryf het.
Die hof het gehoor die slagoffers se hande en voete is met ’n elektriese koord vasgebind voordat hulle aangerand en vermoor is. Van Zyl het die wyse waarop die misdade gepleeg is as grusaam beskryf.
“Die beskuldigde en haar mede-aanvallers het soos roofdiere opgetree wat menselewens met uiterste minagting behandel het.”
Kruger se ma, Aletta Becker (91), wat aan demensie ly, was ten tyde van die voorval in die huis, maar is ongedeerd in die bed aangetref. Sy woon nou in ’n ouetehuis op Trompsburg.
Bewyse het daarop gedui Kruger is waarskynlik gedwing om geld na Ntsoeu en Moroe se bankrekeninge oor te plaas voordat sy vermoor is. Altesaam R77 900 is na Ntsoeu se rekening en R69 480 na Moroe se rekening oorgeplaas, terwyl die totale waarde van die geld en goedere wat gesteel is, op R145 000 geraam is.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


