On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Politieke partye soek antwoorde ná nóg ’n vroueliggaam gevind is

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:59 Tue, 15 Sep 2026

Politieke partye soek antwoorde ná nóg ’n vroueliggaam gevind is | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die Oos-Randse polisie is onder toenemende druk nadat die liggaam van ’n sesde vrou binne sowat twee maande gevind is.

Die jongste vonds het nuwe vrae laat ontstaan oor die polisie se misdaadbekamping en intelligensiewerk, terwyl owerhede steeds ondersoek instel na moontlike verbande tussen die sake. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, en lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, sal na verwagting Dinsdag (15/9) met die ondersoekspan vergader om oor die vordering, leidrade en hulpbronne te besin.

Cachalia sê die gebeure is “diep ontstellend” en die moontlikheid dat ’n persoon of persone spesifiek vroue teiken, verg dringend aandag. “ ’n Multidissiplinêre ondersoekspan is reeds saamgestel om moontlike verbande tussen die sake te ondersoek, en die verantwoordelikes te identifiseer en voor die gereg te bring.” 

Cashalia vra ook die publiek om nie onbevestigde inligting te versprei of mense sonder bewyse van die moorde te beskuldig nie. Die polisie het voorheen bevestig dat daar ooreenkomste tussen sommige van die sake is, maar kan nog nie bevestig of al die moorde verband hou of die werk van ’n reeksmoordenaar kan wees nie.


Die DA in Ekurhuleni wil intussen hê die senior polisie-leierskap en die Ekurhuleni-metropolisie moet voor die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor gemeenskapsveiligheid verskyn.

Die party vra onder meer wat die polisie en misdaadintelligensie oor die voorvalle geweet het, wanneer hulle daarvan bewus geword het en of waarskuwingstekens misgekyk is. 

“Ons wil ook weet of inligting tussen die polisie en die metropolisie gedeel is, of voldoende polisiebeamptes ontplooi is en wat tans gedoen word om te keer dat nog ’n vrou sterf,” sê Khathutshelo Rasilingwane, DA-wetgewerlid en -burgemeesterskandidaat.

Die VF Plus het eweneens ’n beroep op die polisie gedoen om sy misdaadbekampingsveldtog in die gebied onmiddellik te verskerp. “Misdaadintelligensie moet ten volle benut word om moontlike patrone, verdagtes en hoërisikogebiede te identifiseer, terwyl sigbare polisie-teenwoordigheid in dié gebiede verhoog moet word,” sê Jaco Mulder, ’n VF Plus-wetgewerlid en provinsiale leier.

Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) se nasionale vrouekommissie veroordeel intussen die voortgesette en wrede moorde op vroue ten sterkste en vra dringende, beslissende en gekoördineerde optrede om dié geweld te beëindig.

Die jongste liggaam is Dinsdagoggend (15/9) in Kwa-Thema, naby Springs, gevind. Die eerste van die slagoffers is op 15 Julie naby die R21 aangetref.


Op 24 Augustus is die liggaam van ’n tweede vrou in dieselfde gebied gevind. Elizabeth (Tsontso) Mokolo Moselakgomo, 38, het later verdwyn nadat sy gaan draf het, waarna haar liggaam agter ’n hotel in Rhodesfield gevind is. Vroue in en om die gebied word intussen gemaan om veral in afgesonderde gebiede nie alleen te stap of draf nie.

Enigiemand met inligting wat met die ondersoeke verband kan hou, kan ao. Elvis Manyike by 082 465 7249 bel, Stop Misdaad by 08600 10111 bel of inligting by enige polisiekantoor aanmeld.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.