On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Sesde vroue-liggaam in Oos-Rand gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:26 Tue, 15 Sep 2026

Sesde vroue-liggaam in Oos-Rand gevind | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Kommer heers oor die toenemnde aantal vrouemoorde in die Oos-Rand nadat nog ’n vrou se liggaam Dinsdagoggend (15/9) in Kwa-Thema, naby Springs, gevind is.

Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, sê die jongste geval “kan nie net nog ’n statistiek wees nie”. Die polisie stel steeds ondersoek in na ’n moontlike verband tussen verskeie sake.

Daar kon nog nie bevestig word of die jongste vonds verband hou met die moord op vyf vroue wie se liggame sedert Julie in die Oos-Rand gevind is nie, sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.

Die jongste vonds volg ’n dag nadat die halfnaakte liggaam van nóg ’n vrou in die Olifantsfontein-gebied gevind is. Dit is sowat 20 kilometer van die plek waar vier ander vroue se liggame langs die R21 naby Kempton Park aangtref is.

Die eerste slagoffer (37) is op 15 Julie naby die R21 gevind. Sy was naak en haar hande en voete was met kabelbinders vasgebind. ’n Verdagte is twee dae later in hegtenis geneem en bly in aanhouding. Op 24 Augustus is die liggaam van ’n 32-jarige vrou ook naby die R21 gevind. Sy was gedeeltelik geklee.

’n Derde liggaam is op 10 September gekry. Volgens die polisie was dié vrou reeds in ’n gevorderde stadium van ontbinding en was sy naak. Elizabeth (Tsontso) Mokolo Moselakgomo (38) het Woensdag (9/9) verdwyn nadat sy gaan draf het. 

Haar liggaam is drie dae later agter ’n hotel in Rhodesfield gevind. Sy was gedeeltelik geklee in sportdrag en is later deur haar familie uitgeken. Haar agtjarige dogter was tuis toe haar ma gaan draf het en het familielede gekontak toe sy nie terugkeer nie.

‘Die polisie kan nie bevestig of … dit moontlik die werk 
is van ’n reeksmoordenaar nie’

Die ooreenkomste tussen sommige van die sake het daartoe gelei dat ’n multidissiplinêre taakspan saamgestel is. Speurders en spesialis-eenhede ontleed onder meer die bewyse, tydlyne, liggings en profiele van die slagoffers.

Die sielkundige-ondersoekeenheid is ook betrek om moontlike gedragspatrone en verbande tussen die sake te ondersoek. Die polisie kan egter steeds nie bevestig of die sake met mekaar verband hou of dit moontlik die werk is van ’n reeksmoordenaar nie.

Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale kommissaris, sê die polisie sal “geen steen onaangeroer laat” om diegene wat vir die vroue se dood verantwoordelik is, te identifiseer en voor die gereg te bring nie.

Vroue in en om Kempton Park word intussen gemaan om nie alleen te stap of draf nie, veral nie in afgesonderde gebiede nie.

Enigiemand met inligting wat met die sake verband kan hou, word versoek om ao. Elvis Manyike by 082 465 7249 te kontak, Stop Misdaad by 08600 10111 te bel of inligting by enige polisiekantoor aan te meld.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.