On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Moordkomplot: Sleutelgetuienis teen boervrou van Aliwal-Noord hervat

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Tue, 21 Jul 2026

Moordkomplot: Sleutelgetuienis teen boervrou van Aliwal-Noord hervat | News Article
Anélle de Bruin in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die getuienis van ’n sleutelgetuie in ’n beweerde komplot om ’n man te laat vermoor, sal Maandag (21/9) weer onder die loep kom wanneer die saak teen ’n Oos-Kaapse vrou hervat.

Anélle de Bruin staan tereg op ’n aanklag van sameswering om moord te pleeg nadat sy na bewering haar vervreemde man, Johan de Bruin, op 8 Januarie 2025 op hul plaas Rietpoort in die Floukraal-omgewing wou laat vermoor. Die moord moes glo na ’n plaasaanval lyk.

Die saak is vir twee dae op die streekhofrol op Aliwal-Noord geplaas. Die verdediging sal na verwagting die kruisondervraging voortsit van die staat se eerste getuie, Petrus Johannes van Schalkwyk, ook bekend as Jan Wolf, wie se weergawe reeds breedvoerig in die hof getoets is.

Van Schalkwyk het in Junie getuig De Bruin het hom genader om iemand te kry om haar man te vermoor. Hy het aanvanklik aan die gesprekke deelgeneem omdat hy gehoop het om haar van die beweerde plan te laat afsien, maar het later die polisie genader en ’n video-opname oorhandig.

In die video wat in die hof gespeel is, verduidelik De Bruin glo hoe die aanval moes plaasvind. Sy het die gesin se aandroetine beskryf en gesê haar man sou ná televisie op die bed gaan lê, waarna die vermeende skieter hom deur ’n oop skuifdeur van die slaapkamer kon skiet.

De Bruin het glo ook gesê daar was nie veiligheidskameras by dié punt nie. Die bande van voertuie van jagters wat moontlik op die plaas was, moes stukkend geskiet word en plaaswerkers, indien nodig, ook geskiet word, blyk uit die opname wat tydens die verhoor gespeel is.

Die verdediging betwis egter die video. Adv. Allen Simpson, De Bruin se regsverteenwoordiger, het beswaar gemaak teen die toelaatbaarheid daarvan en aangevoer die egtheid van die opname is nog nie geverifieer nie. Van Schalkwyk beweer ook De Bruin het R4 400 as ’n “deposito” vir die beplande moord betaal.

Die hof in Aliwal-Noord. Foto: Charne van der Merwe

Daar is nie vooraf op ’n vaste bedrag vir die beweerde moord ooreengekom nie en die oorblywende betaling sou glo ná Johan se dood gevolg het, het Van Schalkwyk getuig. Hy was nooit self op die plaas nie, maar het foto’s ontvang wat glo die huisuitleg en ligging van die reaksie-eenheid se kameras wys.

Die polisie het op die betrokke aand op ’n wenk oor die beweerde komplot gereageer, waarna De Bruin in hegtenis geneem is. Sy is op borgtog van R2 000 vrygelaat nadat sy nege dae in aanhouding was en ontken die bewerings teen haar.

Johan en Anélle de Bruin. Foto: Facebook

Simpson het Van Schalkwyk se geloofwaardigheid en betrokkenheid by die gebeure bevraagteken. Die verdediging het dokumente voorgelê wat wys De Bruin en Van Schalkwyk het reeds voor die beweerde moordkomplot ’n finansiële en sakeverhouding gehad, waaronder ’n beoogde belegging in sy onderneming en vorige lenings.

Die verdediging voer aan dié verhouding is relevant tot Van Schalkwyk se geloofwaardigheid. Simpson het ook aangevoer hy kon De Bruin in ’n lokval gelei het deur met die gesprekke en beweerde plan saam te speel, en het dit beskryf as uitlokking om ’n misdaad te pleeg.

Van Schalkwyk ontken dat hy De Bruin mislei of in ’n lokval gelei het. Sy kruisondervraging sal na verwagting Maandag voortgaan wanneer die verdediging weer sy weergawe, die video-opname en die aard van sy finansiële verhouding met De Bruin onder die loep neem.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.