Central SA
Nog ’n vroueliggaam gevind: 12de liggaam sedert Julie op Oos-Rand ontdek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:03 Mon, 28 Sep 2026
Nog ’n liggaam is op Gauteng se Oos-Rand gevind, slegs ’n paar uur nadat ’n ander liggaam ontdek is.
Dit bring die getal vroueliggame wat sedert Julie in die gebied gevind is, op twaalf te staan. “Die liggaam is Maandag (28/9) in Tembisa gevind,” sê brig. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder.
Die liggaam is in Mapungubwe-straat omstreeks 05:45 gekry. Die vrou was na bewering op pad werk toe. Sy is intussen geïdentifiseer, maar haar familie moet nog in kennis gestel word.
Die elfde liggaam is Sondag (27/9) omstreeks 12:00 in ’n oop stuk veld naby Rhokanaweg, Springs, gevind. “ ’n Lid van ’n sekuriteitsmaatskappy in ’n voertuig het die liggaam gesien en die polisie in kennis gestel. Al die nodige rolspelers is gemobiliseer.”
“Dit sluit in die taakspan wat die moordsake op die Oos-Rand ondersoek, die eenheid wat misdaadtonele bestuur, speurders, misdaadintelligensie, asook die polisie se ondersoekende sielkundige-dienste,” sê Muridili.
Die tiende liggaam, dié van Ntombifuthu Nxumalo, is Saterdagoggend in Tembisa-Suid, in die Vusimusi-seksie, ontdek. Sy is naak gevind en het ernstige kopbeserings opgedoen.
Muridili sê klippe is naby die liggaam gevind en daar word vermoed sy is met ’n klip doodgeslaan. “Geen sigbare steekwonde kon gesien word nie.”
“Nadat Nxumalo se liggaam ontdek is, is ondersoekers na ’n adres in Tembisa, waar hulle vasgestel het dat die verdagte na Limpopo gereis het, vermoedelik om te vlug.” Die man is Saterdagaand in Tzaneen in Limpopo in hegtenis geneem weens die moord. Hy sal na verwagting Dinsdag (29/9) in die hof verskyn.
Volgens die voorlopige ondersoek het Nxumalo Vrydagaand saam met ’n vriendin by ’n taverne in Tembisa gekuier. Sy het die perseel saam met ’n onbekende man verlaat. Inwoners sê hulle het omstreeks 23:00 ’n vrou hoor gil wat om haar lewe smeek.
Fortunate Masilela (31) en Tsakane Msithani (38), wat verlede Maandag (21/9) in hegtenis geneem is in verband met die moord op Jabulile Ntimba in Dawn Park op die Oos-Rand, sal na verwagting Donderdag (1/10) om borgtog aansoek doen. Sy is die negende vrou wie se liggaam ontdek is.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


