Central SA
Tonne lemoene word ’n vrag vol omgee─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:55 Mon, 05 Oct 2026
Die oorlog in die Midde-Ooste hou soms onverwagte goeie gevolge in. Soos ’n groot vrag vrugte wat onder mense in nood in die Moot in Pretoria versprei is.
’n Sitrusprodusent het tonne lemoene geskenk en ander rolspelers in die bedryf het gehelp met die verspreiding. BJ Blyde het altesaam 32 ton lemoene geskenk, terwyl DKI Global en DKI Fruit Marketing die vervoerkoste gedra het.
Ons Plek Derdepoort in die Moot het as aflaai- en verspreidingspunt gedien, waarna gewillige hande gehelp het om die vrugte af te laai en bakkies en trokke vol te pak.
Die oorlogsituasie in die Midde-Ooste raak uitvoermarkte en verskepingsopsies nadelig. Hoër vervoerkoste, stygende brandstofpryse, oorlogsrisikoversekering en bykomende oorlaaikoste maak uitvoer in sommige gevalle ekonomies onhaalbaar.

Joanice Schutte, Caylin du Plooy, Karmien Buys, Margolé Riekert, Elize Bezuidenhout en Chandré Joubert. Foto verskaf
Die skenkers verduidelik die plaaslike mark en sapfabrieke kan volgens hulle nie al die vrugte absorbeer wat nie uitgevoer kan word nie. Sitrus van goeie gehalte het gevolglik min afset opsies. “Ons probeer om minstens ’n deel daarvan in hande te plaas wat dit nuttig kan gebruik.”
By Derdepoort was daar juis sulke hande. Aftreeoorde, jeugsentrums, CMR, plaaslike kerke, kleuterskole en rehabilitasiesentrums het lemoene kom afhaal om dit verder te versprei waar die behoefte groot is.
Veiligheidsondernemings het ook kom afhaal vir gesinne in die omgewing van wie se nood hulle bewus is. Marolé Riekert, hoof van projekte by Helpende Hand, sê elkeen se bydrae het die skenking verder help dra. “Ons is opreg dankbaar teenoor BJ Blyde vir die lemoene en teenoor DKI Global en DKI Fruit Marketing vir die vervoer.”

Lemoene is aan bejaardes van Blommefonds geskenk, waar die meeste afhanklik is van Sassa-toelaes. Foto verskaf
“En dan is daar die mense wat opgedaag en kom help het. Elke voertuig, elke paar hande en elke instansie wat dit verder versprei het, het ’n aandeel daarin dat hierdie vrugte by mense in Helpende Hand se voedselketting kan uitkom.” Die dag het ook ’n mooi verrassing opgelewer: een kerk het lemoene kom haal en Ons Plek Derdepoort op sy beurt met aartappels, uie en botterskorsies geseën.
“Dit laat ’n mens glimlag,” sê Riekert. “Hulle het kom ontvang, maar ook iets saamgebring om te deel. Dis die soort omgee wat ’n gemeenskap sterk maak: mense wat raaksien waar hulle kan help en dan eenvoudig inspring.”
En met lemoene wat ook na aftreeoorde vir bejaardes geneem is, vermoed Riekert daar wag dalk nog ’n soet verrassing. “Ek kan nie wag om te sien wat die bejaardes met die lemoene gaan optower nie. As daar lemoenskil in ’n baksel Hertzoggies beland, meld ek graag aan om te kom proe!” skerts sy.
Vir die organiseerders was dit besonders om te sien hoe mense saamwerk om die vrugte verder te versprei. Die skenking het by ’n produsent begin, met vennote se hulp gereis en deur ’n gemeenskap se hande sy bestemming bereik.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

