On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Oproep vir sterker landelike veiligheid ná plaasmoord in Noordwes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:45 Wed, 07 Oct 2026

Oproep vir sterker landelike veiligheid ná plaasmoord in Noordwes | News Article
Hannetjie van Zyl en haar man, Sarel. Foto verskaf

Die dood van ’n boervrou van Ottosdal lei tot hernieude oproepe vir sterker landelike veiligheid, vinniger polisiereaksie en beter beskerming van boere en plaaswerkers in Suid-Afrika.

Hannetjie van Zyl (55) is Maandag (5/10) by die veiligheidshek van haar plaas langs die Doornpan-pad buite Ottosdal aangeval. Sy is met ’n onbekende voorwerp van agter aangeval en verskeie kere oor die kop en nek geslaan toe sy in haar voertuig wou terugklim, sê kapt. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder.

Haar man, Sarel van Zyl, het haar met ernstig beserings aangetref en die voorval op plaaslike landbouveiligheidsgroepe aangemeld. Hy het haar na ’n hospitaal in Klerksdorp gehaas, maar sy het aan haar beserings beswyk. Haar handsak en selfoon is gesteel, sê Carin Visser, Noordwes-DA-wetgewerlid.

‘Boere afhanklik van eie veiligheidsnetwerke’

“Die aanval beklemtoon weer hoe afhanklik boere en ander landelike inwoners van hul eie veiligheidsnetwerke geword het. Landelike veiligheid verg ’n behoorlik toegeruste en verantwoordbare polisiëringstelsel wat die besondere uitdagings van afgeleë gemeenskappe erken.”

Die DA wil die Noordwes-polisiekommissaris nou nader oor die polisie se reaksie, die klassifikasie van die voorval en die ondersoek. “Sterker samewerking is nodig tussen die polisie, die provinsiale en plaaslike regering, boere en bestaande landelike veiligheidstrukture om reaksietye te verbeter.”

‘Eerder diefstal van handsak as plaasaanval’

Visser sê hoewel die polisiekantoor op Ottosdal sowat 17 km van die plaas af is, het beamptes glo eers ongeveer ’n uur ná die aanvanklike noodoproep opgedaag. Daar word beweer die familie is aanvanklik meegedeel die voorval word eerder as diefstal van ’n handsak as ’n plaasaanval beskou.

Kapt. Kelebogile Morake vroeër aan OFM Nuus gesê ’n klagte van ’n moontlike plaasaanval is Maandagaand ontvang en beamptes het hulle na die plaas gehaas. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Hannetjie van Zyl en haar man, Sarel. Foto verskaf

Dit is nie die eerste keer dat Van Zyl en haar man op dié plaas geteiken is nie. Drie mans wat in Julie 2020 in verband met ’n plaasaanval op die egpaar in hegtenis geneem is, is minder as twee weke later op waarskuwing vrygelaat.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-leier, veroordeel die jongste aanval en vra die president moet plaasmoorde openlik veroordeel en veiligheid op die platteland dringend behandel.

‘Ramaphosa moet werklikheid van plaasmoorde erken’

“Ek versoek pres. Cyril Ramaphosa daarom om die werklikheid van plaasmoorde nou te erken en te veroordeel, om sy medelye met mev. Van Zyl se naasbestaandes te betuig en om ondubbelsinnig die lied ‘Kill the Boer, Kill the Farmer’ te veroordeel en hom daarteen uit te spreek.


“Diegene wat opstaan vir bewusmaking oor plaasmoorde, word toenemend as onpatrioties of ‘ver-regs’ gebrandmerk wanneer hulle die internasionale gemeenskap hieroor inlig. Die VF Plus is van mening ontkenning werk mee tot die voortsetting van die geweld.”

Niels Nilsson, ’n onafhanklike navorser oor plattelandse veiligheid wat aan die Landelike Veiligheid-statistiekgroep SA verbonde is, sê hul rekords toon daar was vanjaar reeds 22 plaasaanvalle in Noordwes. Die landwye rekords tot dusver toon 25 plaasmoorde.

Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, sê daar kan nie van plattelandse gemeenskappe verwag word om hierdie vlak van geweld bloot as deel van die lewe te aanvaar nie.

“Beter landelike polisiëring, misdaadintelligensie, toegeruste speurders en funksionerende veiligheidstrukture is noodsaaklik om aanvallers op te spoor, in hegtenis te neem en suksesvol te vervolg.”

OFM Nuus  cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.