On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Upington-pa sterf in ongeluk, vrou veg om lewe ná noodoperasie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:38 Thu, 08 Oct 2026

Upington-pa sterf in ongeluk, vrou veg om lewe ná noodoperasie | News Article
Léhan Muller is op slag dood en sy vrou, Sunica, ernstig beseer in ’n motorongeluk. Foto verskaf

’n Pa van die Noord-Kaap is dood en sy vrou veg in die hospitaal om haar lewe nadat die egpaar in ’n ernstige ongeluk betrokke was.

Léhan (33) en Sunica (31) Muller van Upington was Maandag (6/10) omstreeks 18:00 sowat 5 km buite Olifantshoek op pad huis toe in ’n ongeluk. Hulle het glo met ’n aankomende vragmotor gebots, waarna hulle beheer oor die voertuig verloor het, sê Jenni van der Merwe, Sunica se suster.

Léhan is op slag dood, terwyl Sunica aanvanklik in ’n hospitaal op Kathu behandel is. Sy is Dinsdag (7/10) per Aerocare-vliegtuig na Kimberley geneem weens die ernstige aard van haar beserings.

“Sunica het onder meer bloeding en drukking op die brein, ’n gebreekte sleutelbeen en ribbes, asook longprobleme weens die gebreekte ribbes opgedoen. Sy het ook rugmurgbeserings,” sê Van der Merwe.

Sunica en Léhan Muller en hul kinders, Léha, AB en Léhan jr. Foto verskaf

Haar toestand het Woensdagaand verdere kommer veroorsaak toe sy kort ná 23:00 vir ’n noodoperasie teater toe is om die bloeding en drukking op haar brein te verlig.

Dokters kon egter geen waarborg oor die uitslag van die operasie gee nie. Die familie is vroeg Donderdagoggend ingelig dat Sunica uit die teater is en dat die operasie tot dusver suksesvol verloop het.

Weens die omvang van die operasie word sy tans onder sedasie gehou terwyl sy in die hospitaal herstel. Die familie wag steeds op verdere terugvoer oor haar toestand en die omvang van haar beserings.

‘AB het stilgeword en probeer om vir sy jonger broer en suster 
te verduidelik dat hul pa dood is’

Léhan en Sunica was sowat agt jaar getroud en 13 jaar saam. Hulle het twee maande gelede na Upington verhuis en het drie kinders, AB (7), Léha (4), wat volgende week vyf word, en Léhan jr. (3).

Van der Merwe sê die kinders was nie ten tye van die ongeluk in die voertuig nie. “Hulle was by familie en is kort ná die ongeluk, met die ondersteuning van ’n dominee van Upington, van hul pa se dood vertel.

“Hulle het die nuus op verskillende maniere verwerk. AB het stilgeword en probeer om vir sy jonger broer en suster te verduidelik dat hul pa ‘dood’ is, terwyl Léhan jr. gesê het hy gaan sy pa wakker maak en Léha begin huil het.”

Léhan en Sunica Muller. Foto verskaf

Sy sê Léhan was ’n sterk gelowige man wat die waardes wat hy by sy eie pa geleer het, uitgeleef het. Hy was ’n kalm mens wat altyd probeer het om ’n plan te maak, hard gewerk het en baie na aan sy eie familie was.

“Hy was nie net ’n swaer vir ons nie, maar ’n broer.” Van der Merwe beskryf die egpaar as mense met spontane persoonlikhede wat mekaar aangevul het en, ondanks hul op- en afdraandes, was dit vir die mense na aan hulle duidelik dat hulle mekaar baie liefgehad het. “Hulle kinders was hulle alles.”

Die familie het intussen ’n geldinsameling begin om Sunica se mediese koste, Léhan se begrafnis en moontlike toekomstige uitgawes vir die kinders te help dek.

Daar is glo reeds sowat R600 000 aan ambulans- en lugvervoer, hospitaalkoste en verblyf betaal. Die egpaar het, sover die familie weet, nie mediese fonds of versekeringspolisse gehad nie.

Van der Merwe sê daar is tans baie bespiegeling oor wat presies tot die ongeluk gelei het, maar dat die familie eerder op Sunica, die kinders en die pad vorentoe wil konsentreer. “Léhan sou wou hê dat almal moet weet: ‘God se wil is nie ons wil nie, maar God se wil is die enigste wil,” sê Jenni.

Die familie doen ’n beroep op mense wat vir Léhan en Sunica lief is om hulle kinders in hierdie uiters moeilike tyd te ondersteun en te beskerm.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.