On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ondersoek na Hoërskool Driehoek-leerder se dood hervat op Sasolburg

───   ZENANDE MPAME 16:07 Thu, 08 Oct 2026

Ondersoek na Hoërskool Driehoek-leerder se dood hervat op Sasolburg | News Article
Sithole het in Januarie in die water beland terwyl hy saam met vriende op ’n private bootrit op die Vaalrivier was. Foto: Facebook

Die geregtelike ondersoek na die dood van ’n Hoërskool Driehoek-leerder, wat vroeër vanjaar tydens ’n private bootrit op die Vaalrivier verdwyn het, word later vandeesmaand in Sasolburg hervat.

Meer as agt maande nadat die leerder tydens ’n bootrit op die Vaalrivier verdwyn het, sal die soeke na antwoorde in die hof voortgaan. Die omstandighede rondom die dood van Thomas Sithole sal na verwagting onder die loep kom wanneer ’n geregtelike ondersoek op Donderdag 29 Oktober in die Sasolburgse landdroshof hervat word. 

Sithole het in Januarie in die water beland terwyl hy saam met vriende op ’n private bootrit op die Vaalrivier was. Sy liggaam is drie dae later gevind ná ’n soektog waarby die polisie en soek-en-reddingspanne betrokke was. ’n Nadoodse ondersoek is in Februarie afgehandel en die polisie het gesê geen misdaad word vermoed nie.

Die saak word as ’n geregtelike ondersoek hanteer. Die Sithole-gesin het op Dinsdag 29 September na die Sasolburgse landdroshof teruggekeer op soek na antwoorde. Die verrigtinge is egter tot 29 Oktober uitgestel om die familie tyd te gee om regsverteenwoordiging te kry om hulle by te staan.

’n Geregtelike ondersoek in Suid-Afrika is ’n geregtelike, ondersoekende proses na ’n onnatuurlike dood waar die NVG nie strafregtelike verrigtinge ingestel het nie. Die hoofdoel is om deur ’n formele, openbare ondersoek die waarheid vas te stel en die feite rondom ’n dood wat vermoedelik weens onnatuurlike oorsake plaasgevind het, te bepaal.

“Die nadoodse ondersoek is gedoen,” sê Josephine Rani, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Die lykskouingsverslag vorm deel van die geregtelike ondersoek en sal ná afhandeling van die ondersoek aan die direkteur van openbare vervolging voorgelê word vir ’n besluit.

“Daar is in hierdie stadium geen nuwe ontwikkelinge nie. Geen misdaad word vermoed nie en die ondersoek duur voort.”

Sithole is na bewering laas gesien tydens ’n bootrit saam met ’n groep vriende, wat gesê het hulle het eers besef hy is weg toe die boot na sy bestemming teruggekeer het.

Nadat besef is hy is in die water, is soek-en-reddingspanne ontplooi om hom te probeer opspoor. Vriende en familielede het langs die rivieroewer by die Abrahamsrust-oord saamgedrom terwyl polisieduikers die soektog voortgesit het.

Daar word beweer dat die groep, toe hulle die sitplekke wou herrangskik, besef het Thomas is nie meer op die boot nie. Hulle het na bewering omgedraai en naby die oord na hom gesoek, maar kon hom nie vind nie.

Stephan Schoeman, Hoërskool Driehoek se skoolhoof, het Sithole beskryf as iemand wat met almal bevriend was en min vyande gehad het. “Thomas was ’n vriend vir almal, een van die min mense wat geen vyande gehad het.

“Sy vriende was lief vir hom weens sy positiewe en vrolike geaardheid, en hy het altyd probeer om die mense om hom te laat glimlag.”

Sithole is op Saterdag 24 Januarie vanuit die Rhoda Yende-gemeenskapsaal in Sharpeville ter ruste gelê. Hy sou Woensdag (7/10) 18 jaar oud geword het.

OFM Nuus/Zenande Mpame sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.