Central SA
Kimberley Action Group wil jare se munisipale bestuur laat ondersoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:39 Mon, 12 Oct 2026
’n Burgerlike beweging in Kimberley wil ’n onafhanklike forensiese ondersoek na sowat 15 jaar se bestuur by die Sol Plaatje-munisipaliteit instel, terwyl ingrypende veranderinge aan dienslewering en munisipale aanspreeklikheid voorgestel word.
Die Kimberley Action Group se 2026–2031-manifes stel voor beweerde onreëlmatighede met aanstellings, tenders, munisipale grondtransaksies en behuisingstoekennings moet ondersoek word. Die groep wil ook hê voormalige munisipale werknemers moet kan getuig en fluitjieblasers moet deur ’n vertroulike proses beskerm word, sê Kagiso “Boyce” Makodi, die organisasie se leier.
“Die doel is nie wraak nie. Dit is om vas te stel wat gebeur het, oortreders aanspreeklik te hou waar die bewyse dit regverdig en die stelsels reg te stel wat oortredings moontlik gemaak het.”
Die groep wil die ondersoek deur ’n raadsbesluit aan die gang kry en ook die Noord-Kaapse LUR verantwoordelik vir plaaslike regering versoek om, waar toepaslik, ingevolge art. 106 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels ondersoek in te stel.
“Bekostigbare elektrisiteit en die herstel van water- en rioolinfrastruktuur is van die ander kernvoorstelle,” sê Makodi. Die groep wil die moontlikheid van sonkragprojekte, batteryberging en alternatiewe elektrisiteitsverkryging ondersoek, asook ’n dringende beoordeling van rioolpompstasies, waterverliese en gebiede waar riool gereeld oorloop. “Rou riool wat deur strate vloei, kan nie as normaal beskou word nie.”
Die beweging wil ook ’n ekonomiese herstelplan instel wat plaaslike klein ondernemings, jong entrepreneurs en werksoekers groter toegang tot ekonomiese geleenthede moet gee. Dit sluit ’n hersiening van munisipale verkrygingsprosesse in om plaaslike ondernemings se deelname aan infrastruktuurprojekte, werkskepping en vaardigheidsontwikkeling te bevorder.

Die manifes stel voor die munisipaliteit moet sy eie tegniese kapasiteit versterk om roetinewerk, soos die herstel van slaggate en water- en rioolpype, waar prakties en kostedoeltreffend, self te verrig.
Misdaad, dwelmmisbruik en die beskerming van munisipale infrastruktuur vorm ook deel van die plan. Die groep wil die regs-, finansiële en bedryfsvereistes vir ’n moontlike munisipale polisiediens laat ondersoek. So ’n diens sal die nodige goedkeuring en hulpbronne vereis.
Ander voorstelle sluit in ’n oudit van munisipale huurbehuising, billiker terugbetalingsreëlings vir inwoners met munisipale skuld en ’n openbare aanspreeklikheidsplatform waarop inwoners die vordering met infrastruktuurprojekte en raadsbesluite kan volg.
Die groep se eerste 100 dae sal volgens die manifes daarop toegespits wees om die forensiese ondersoekproses aan die gang te kry, dringende water- en rioolprobleme te identifiseer, ’n ekonomiese taakspan saam te stel en ’n plan vir die beskerming van kritieke munisipale infrastruktuur te ontwikkel.
“Die voorstelle vorm deel van die groep se vyfjaarplan vir 2026 tot 2031 en sal binne die munisipaliteit se wetlike bevoegdhede, beskikbare hulpbronne en toepaslike prosesse uitgevoer moet word,” sê Makodi.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

