On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Hello Summer-projek wil 57 kinders se harte warm maak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:19 Mon, 12 Oct 2026

Hello Summer-projek wil 57 kinders se harte warm maak | News Article
Die sluitingsdatum is 25 November en almal is welkom om by die Hello Summer-projek betrokke te raak. Foto ter illustrasie: Pixabay

’n Nuwe someruitrusting kan ’n groot verskil maak aan ’n kind se selfvertroue, maar nie elke kind het noodwendig toegang tot die basiese klere en skoene wat vir die warmer maande nodig is nie.

Dit is dié behoefte wat Angelique Strydom geïnspireer het om die Hello Summer-projek te begin waardeur sy geld insamel om 57 kinders by die President Kruger-kinderhuis op Reddersburg van nuwe somerklere te voorsien. Sy wil ’n positiewe verskil in ander se lewe maak, veral dié van kinders wat basiese benodigdhede nodig het.

“Dit breek my hart om te dink daar is kinders wat ’n tekort aan basiese behoeftes soos skoene en klere het. Ek wil hê hulle moet weet daar is mense wat aan hulle dink en vir hulle omgee.”

Die oorspronklike plan was om iets spesiaals vir die kinders vir Kersfees te doen. Nadat sy met Jolandé Noeth, ’n mede-huisouer by die kinderhuis, gesels het, het sy egter uitgevind dat die kinders veral somerklere, sandale of plakkies benodig.

Die kinderhuiskinders gaan elk 'n paar plakkies kry met die geld wat ingesamel word. Foto iStock

Die projek het ’n nuwe rigting ingeslaan, met die doel om elke kind van ’n volledige someruitrusting te voorsien. Dit sal ’n paar somerskoene, ’n broek en hemp of ’n rok vir meisies insluit.

Strydom sê ’n skenking van R200 is as riglyn bepaal om dit vir soveel moontlik mense toeganklik te maak. “Dis ’n goeie bedrag om soveel moontlik skenkers aan te moedig, maar steeds genoeg om iets ordentliks vir die kinders te kan gee.”  

Die minimum geldinsamelingsdoelwit is R11 400 om seker te maak al 57 kinders kan ’n volledige uitrusting ontvang. Ongeveer ’n vyfde van die bedrag is reeds ingesamel, wat beteken nog geld is nodig.

Angelique Strydom wil graag 'n verskil in die kinders se lewe maak. Foto verskaf

“Mense hoef nie noodwendig R200 by te dra om ’n verskil te maak nie. Kleiner skenkings kan ook help.” Mense kan die projek verder ondersteun deur dit op sosiale media te deel of dit onder vriende, familie en kollegas bekend te maak.

Skenkings sal deur middel van betalingsverwysings en skriftelike rekords gemonitor word. Skenkers kan ook navraag doen oor hoe hul bydraes aangewend word, en fotobewyse van die aangekoopte artikels en die oorhandiging sal beskikbaar wees. Die kinders se gesig en identiteit sal in die foto’s beskerm word.

Die klere sal na verwagting vroeg in Januarie aan die kinders oorhandig word, net voordat die nuwe skooljaar begin. “Ek hoop dat die projek ’n bietjie druk van die kinderhuis sal afhaal en dat elke kind selfversekerd en gemaklik sal voel wanneer hulle die somer aanpak.” 


Die sluitingsdatum is 25 November en almal is welkom om by die Hello Summer-projek betrokke te raak. 

Noeth sê die kinderhuis het ’n verskeidenheid benodigdhede nodig om die kinders, wat tussen drie en 19 jaar oud is, te versorg. “Die grootste behoeftes is speelgoed, huishoudelike items, speserye en niebederfbare kos soos macaroni, bully beef en vrugte.”

Hulle is ook bereid om gebruikte klere, veral vir seuns, te aanvaar. Een van die dringendste behoeftes is skryfbehoeftes, aangesien die kinders slegs hul handboeke by die skool ontvang.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.