Central SA
Vakansiewerk: Wat sê die wet oor kinders wat wil werk?─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:38 Mon, 12 Oct 2026
Skoolvakansies bied vir baie kinders ’n kans om ekstra sakgeld te verdien, maar ’n vakansiewerkie kan werkgewers en ouers duur te staan kom as hulle nie die wetlike beperkings op minderjariges se indiensneming verstaan nie.
Hoewel vakansiewerk jong mense waardevolle werkservaring kan bied en hulle kan help om verantwoordelikheid te leer, is daar streng reëls oor wie mag werk, watter take verrig mag word en hoeveel ure kinders mag werk, sê Hardus van der Westhuizen, ’n Bloemfonteinse prokureur.
’n Kinderwerker word ingevolge die toepaslike regulasies en wetgewing omskryf as iemand jonger as 18 jaar wat werk verrig.
Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997, saamgelees met die Suid-Afrikaanse Skolewet en regulasies oor gevaarlike werk deur kinders, bepaal die raamwerk waarbinne minderjariges mag werk. Dat skole gesluit is, beteken nie kinders word outomaties toegelaat om werk te verrig wat andersins verbode sou wees nie.

Selfs wanneer ’n minderjarige wettig mag werk, is daar verskeie soorte werk wat verbode kan wees. Foto: iStock
Van der Westhuizen sê die algemene reël is dat kinders onder 15 jaar, asook kinders wat nog onder die toepaslike minimum skoolverlatingsouderdom is, nie gewone werk mag verrig nie. “Dit beteken dat ’n 13- of 14-jarige nie bloot gedurende die Desembervakansie by ’n winkel, restaurant, kantoor of familieonderneming in diens geneem mag word nie. Ouertoestemming maak indiensneming ook nie opsigself wettig nie.”
Daar is wel beperkte uitsonderings. Kinders onder 15 kan byvoorbeeld, onderhewig aan ’n permit en streng voorwaardes, aan sekere advertensie-, artistieke of kulturele bedrywighede deelneem.
Sekere fondsinsamelingsaktiwiteite, vrywillige werk vir ’n kerk, liefdadigheidsorganisasie of amateursportklub, asook toepaslike werk as deel van skoolopleiding, kan ook onder bepaalde omstandighede toegelaat word. Dit beteken egter nie dat enige werk wat as vrywillig beskryf word, outomaties wettig is nie.

Hardus van der Westhuizen, ’n Bloemfonteinse prokureur. Foto verskaf
Die beskerming van kinders strek verder as bloot die vraag of hulle oud genoeg is om te werk. Geen kind mag werk verrig wat sy of haar gesondheid, veiligheid, opvoeding, welstand of fisieke, geestelike, morele en sosiale ontwikkeling in gevaar stel nie.
Selfs wanneer ’n minderjarige wettig mag werk, is daar verskeie soorte werk wat verbode kan wees weens die gevaar wat dit vir kinders inhou.
Dit sluit in werk met gevaarlike stowwe of plofbare materiaal, sekere take met swaar masjinerie, sweiswerk, die bestuur van motorvoertuie en werk met vuurwapens. Sekere werk by vulstasies, asook werk in kroeë of tavernes, word ook deur die regulasies beperk of verbied.
“Werkgewers kan dus nie bloot aanvaar dat ’n jong persoon enige taak mag verrig omdat hy of sy bereid is om dit te doen nie. Die aard van die werk, die kind se ouderdom en die moontlike risiko’s moet alles in ag geneem word,” sê Van der Westhuizen.
Hoeveel ure mag jeugdiges werk?
Die wetlike beperkings op werksure is veral belangrik wanneer jong mense gedurende skoolvakansies werk.
Volgens Van der Westhuizen plaas die wetgewing en regulasies bepaalde tydsbeperkings op die indiensneming van minderjariges. Die bepalings neem onder meer die kind se ouderdom, skoolbywoning, die aard van die werk en die beskerming van minderjarige werkers se veiligheid en welstand in ag.
“Ouers en werkgewers moet dus nie net op die werkskedule fokus nie, maar ook seker maak dat kinders veilig by die werk kan kom en ná hul skof tuis kan kom.”
Werkgewers wat minderjariges vir wettige vakansiewerk aanstel, het verskeie verantwoordelikhede. Hulle moet eerstens die kind se ouderdom en skoolstatus bevestig en seker maak dat die betrokke werk wettig is.

Waar ’n kind onder 15 vir advertensie-, artistieke of kulturele werk aangestel word, geld ’n spesiale permitstelsel. Foto" iStock
Hulle moet ook verseker dat die werk ouderdomsgepas en veilig is, dat die voorgeskrewe werksure nagekom word en dat die kind nie aan verbode of gevaarlike take blootgestel word nie.
’n Behoorlike risiko-assessering moet gedoen word wat die groter kwesbaarheid, onervarenheid en fisiese ontwikkeling van kinders in ag neem. Die werk mag ook nie die kind se toegang tot voldoende voeding, primêre gesondheidsorg of opvoeding benadeel nie.
Daarbenewens moet werkgewers aan die toepaslike arbeidswetlike vereistes oor die diensverhouding, vergoeding en werksomstandighede voldoen.

Waar ’n kind onder 15 vir advertensie-, artistieke of kulturele werk aangestel word, geld ’n spesiale permitstelsel. Dit sluit onder meer die vereiste in dat ’n skriftelike dienskontrak vooraf met die kind se ouer of wettige voog, of ’n behoorlik gemagtigde agent, aangegaan moet word.
Ouers wat hul kinders aanmoedig om gedurende die vakansie geld te verdien, behoort seker te maak dat die werkgewer die toepaslike wetgewing verstaan en nakom. Dit is veral belangrik wanneer kinders informele werk aanvaar, soos om in ’n besigheid te help of ander tydelike take teen betaling te verrig.
Van der Westhuizen beklemtoon dat die kernonderskeid tussen kinders onder 15 en dié van 15 tot 17 jaar nie uit die oog verloor moet word nie. Ouers en werkgewers behoort waar nodig professionele advies in te win oor die toepassing van die relevante wetgewing.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
