Central SA
Tien jaar oue Brandfortse moordsaak ná byna vier uur eindelik op hofrol geplaas─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:12 Mon, 12 Oct 2026
Ná byna vier uur se bespreking oor ’n administratiewe geskil tussen die hof en die aanklaer, is ’n tien jaar oue moordsaak teen ’n bejaarde Brandfortse boer Maandag (12/10 op die hofrol geplaas.
Carl Christian Gutter (80) het weer in die Brandfort-landdroshof verskyn in verband met die beweerde moord op Sonnyboy Segalo byna tien jaar gelede. Daar was weer ’n probleem met die dagvaarding, maar nadat die landdros genader is, is die saak vir 22 Oktober op die rol geplaas, sê adv. Allen Simpson, Gutter se regsverteenwoordiger.
“Verskeie vertoë aan die direkteure van openbare vervolging op sowel provinsiale as nasionale vlak is afgewys. Die saak is op die distrikshof se rol geplaas en daarna na die streekhof in Brandfort oorgeplaas.” Gutter staan tereg op ’n moordaanklag wat verband hou met die dood van Segalo, wat hy na bewering in Augustus 2016 op sy plaas, Palmietfontein, doodgeskiet het.
Luidens polisieverslae is beamptes destyds na die plaas ontbied ná bewerings van ’n poging om ’n plaasaanval uit te voer. Vier verdagtes is glo op die toneel aangetref waar hulle deur boere en plaaswerkers aangehou is.
Segalo het met sy gesig na onder gelê met ’n skietwond in sy rug en het later aan sy beserings beswyk. Niemand is destyds vir sy dood in hegtenis geneem nie.
’n Formele geregtelike doodsondersoek is in Julie 2024 deur die Brandfort-landdroshof geopen. Die bevindinge van dié ondersoek, wat in Maart 2025 uitgereik is, het eindelik gelei tot ’n bevel vir Gutter se inhegtenisneming op ’n moordaanklag.

Adv. Allen Simpson (links) en Carl Christian Gutter. Foto: Charne van der Merwe
Hy is op 21 Mei 2025 in hegtenis geneem en later op R2 000-borgtog vrygelaat. Beslag is op twee vuurwapens gelê vir ballistiese toetse. Segalo en drie vermeende medepligtiges is aanvanklik van poging tot roof aangekla, maar die ander beskuldigdes is sedertdien vrygespreek.
Tydens ’n vorige hofverskyning het Gutter die landdros in Sotho meegedeel dat een van die aanvallers, wat volgens hom gewapen was, steeds op vrye voet is en dat hy vir sy lewe vrees.
Simpson het voorheen gesê daar is geen ballistiese getuienis wat sy kliënt met die skietery verbind nie. Die saak is in Mei van die hofrol geskrap weens herhaalde en onverklaarbare vertragings terwyl op ’n besluit van die NVG gewag is.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
