Central SA
Potch-moord: Ma soek meer as jaar later steeds antwoorde─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:03 Tue, 13 Oct 2026
’n Ma van die Noordwes kan nie vrede maak met die moontlikheid dat haar seun se moordsaak ’n “koue saak” gaan word nie, terwyl sy steeds 13 maande wag op antwoorde.
Chris van der Wal (31) se liggaam is op 28 September verlede jaar op die hoek van Nelson Mandelalaan (N12) en Sol Plaatjestraat in Potchefstroom gevind. Hy is met ’n mes in die nek gesteek en het aan sy beserings beswyk.
Alet de Ridder, sy ma, sê die polisie het haar sowat drie maande gelede meegedeel dat niemand nog in hegtenis geneem is nie. Sy sê daar is sedertdien geen vordering waarvan sy weet nie en sy moes hoor daar sal moontlik nooit geregtigheid wees ná sy dood nie.
“Om vir my te sê ek moet vrede maak met die feit dat ek dalk nooit antwoorde gaan kry nie, is moeilik vir ’n ma om te aanvaar.”

Chris van der Wal se familie soek antwoorde. Foto verskaf
De Ridder sê sy is bekommerd min word gedoen om vas te stel wat met haar seun gebeur het. “Die polisie het destyds gesê hulle wil ’n beloning vir inligting in die koerant plaas, maar dit het nog nie gebeur nie.”
Van der Wal het in Potchefstroom gewoon en by Gas World gewerk. Die aand voor die voorval het hy saam met kollegas die Springbokke se wedstryd gekyk, waarna hulle na GP’s Pub and Grill in Miederpark is. Hy het later saam met ’n vriend in dié man se motor huis toe gery. Daar het glo ’n woordewisseling tussen hulle ontstaan.
Die vriend het aan die polisie gesê hulle het in Govan Mbekistraat gery en naby die verkeerslig by die gholfbaan stilgehou, waar hulle ’n meningsverskil gehad het. Van der Wal het daarna in die omgewing van Du Plooystraat en Govan Mbeki uit die motor geklim.

Die ma probeer bewusmaking skep deur gereeld foto's van haar seun op Facebook te deel. Foto Alet de Ridder
Omstreeks 04:30 is die familie deur die polisie in kennis gestel dat hy oorlede is. Johan Barnard, Van der Wal se swaer, sê kringtelevisie-beeldmateriaal wys glo hoe hy oor die N12 in Potchefstroom se middestad hardloop terwyl hy sy nek vashou, voordat hy buite ’n restaurant ineenstort.
De Ridder se selfoon en huissleutels was steeds in die motor waarin hy gery het. Hy kon dus nie sy selfoon gebruik om hulp te ontbied nie.
“Hy sou seker gemaak het dat sy vriende veilig by hulle huis kom en hulle nie langs die pad sonder ’n selfoon en sonder sleutels gelos het nie,” sê ’n emosionele De Ridder.

'n Kaart wat wys waar Van der Wal beweeg het. Foto: Potchefstroom First Responders
Sy betwyfel ook dat dit ’n rooftog was, aangesien sy beursie, bankkaarte en identiteitsdokumente steeds by hom was toe sy sy liggaam moes gaan uitken. “Daar was geld in sy bank. Hoekom het hulle hom nie probeer beroof nie? Alles was by hom, maar niks is gevat nie.”
Sy verstaan nie waarom geen verdagte steeds in hegtenis geneem is nie. “Ek is ook maar versigtig oor wat ek sê omdat ek reeds met regsoptrede oor moontlike naamskending gedreig is.” Sy wil egter nie hê haar soeke na antwoorde moet eindig omdat die ondersoek nie vorder nie.
De Ridder beskryf haar jongste seun as die nar van die familie, iemand wat altyd gelag, grappies gemaak en stories vertel het. “Ons familie is baie na aan mekaar en het gereeld tydens Kersfees en verjaarsdae saamgekom. Sedert Chris dood is, is dit moeilik om die geleenthede te vier.

“Party dae is makliker as ander dae, maar jy kry jou oomblikke wanneer jy ook maar net wil gaan sit.”
De Ridder hoop hernude aandag aan die saak sal help om mense met inligting na vore te laat kom en die ondersoek weer aan die gang te kry. Vir haar gaan dit nie oor wraak nie, maar oor antwoorde oor wat met haar seun gebeur het. “Ek wil net weet wat gebeur het.” sê sy.
OFM Nuus het vrae gerig aan die Noordwes-polisie oor die huidige stand van die ondersoek, moontlike verdagtes en die redes waarom niemand nog in hegtenis geneem is nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
