Central SA
Ses verdagtes binnekort voor VS-hof ná beslaglegging op R100 000 se koperkabels─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:35 Tue, 13 Oct 2026
Ses mans sal na verwagting Woensdag (14/10) voorkom nadat hulle met meer as 500 kg se vermoedelik gesteelde koperkabels gevang is.
Die ses buitelandse burgers, tussen die ouderdom van 26 en 48, sal in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklag van diefstal, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die verdagtes is Maandag (12/10) omstreeks 21:00 in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het oor twee voertuie wat van Bothaville in die rigting van Welkom onderweg was.
“Die voertuie is op die R30 tussen Allanridge en die Grootkop-substasie voorgekeer. Tydens ’n deursoeking het die polisie die koperkabels in die voertuie gekry,” sê Thabana.

Die kabels wat gevind is. Foto verskaf
Inligting wys die kabel het moontlik aan Transnet behoort en is na bewering in Noordwes gesteel voordat dit na Welkom vervoer is.
Die polisie het beslag gelê op die koperkabels met ’n beraamde straatwaarde van R100 000, asook ’n silwer Volkswagen Golf 5 en ’n wit Ford-bakkie wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is. Albei voertuie is as bewysstukke geregistreer.
Intussen is die Welkom-polisie ook op soek na sowat tien verdagtes ná ’n gewapende rooftog by ’n groothandelaar in die dorp, waartydens ’n onbekende bedrag geld gebuit is.

Een van die voertuie waarop beslag gelê is. Foto verskaf
Die voorval het Saterdag (10/10) omstreeks 12:20 in Muizenstraat plaasgevind. Die verdagtes, wat klapmusse gedra en gewere by hulle gehad het, het klante glo beveel om op die grond te lê voordat hulle geldlaaie en ’n onbekende bedrag geld by die toonbank gebuit het, sê Thabana.
“Verskeie skote is afgevuur voordat die verdagtes in twee voertuie, ’n wit Toyota Corolla Cross met ’n Oos-Kaapse registrasienommer en ’n rooi Volkswagen Golf 7 GTI sonder ’n nommerplaat, gevlug het.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek die voorval as ’n gewapende rooftog en voorval van poging tot moord.
Enigiemand met inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan speursers. Katlego Nketsi by 072 198 0697 bel, of Stop Misdaad bel by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook vanaf ’n slimfoon deur die MySAPS-app gestuur word. Alle inligting sal as vertroulik beskou word.
OFM Nuus sm
•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

