Central SA
Soektog na leeu naby Meyerton aan die gang─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:02 Wed, 14 Oct 2026
Inwoners van Redan en omliggende gebiede in die Vaaldriehoek word versoek om binne te bly en hul diere veilig te hou terwyl ’n leeu na bewering in die gebied los is.
’n Soektog na die groot kat is Woensdagoggend (14/10) begin, terwyl niemand weet waar die dier vandaan gekom het nie. MEI Solutions het intussen veiligheidsmaatreëls aan inwoners en motoriste in die Meyerton-, Redan- en R59-gebiede uitgereik.
Die veiligheidswag wat die dier na bewering eerste opgemerk het, Ithumeleng Mobadi, het aan Vaalweekblad vertel hy het tydens ’n patrollie op die leeu afgekom.
Mobadi was onderweg vanaf ’n boorgat toe hy vreemde geluide naby ’n paal aan die oostekant van Redan hoor. Hy het stilgehou en sy selfoon se flitslig gebruik om te probeer vasstel wat die geluid veroorsaak.
Vermy buitelugaktiwiteite
Hy het aanvanklik vermoed dit kon ’n kat gewees het, maar het besef dat die dier aansienlik groter was toe hy dit belig. Hy kon ’n foto neem voordat die dier in ’n suidelike rigting weggehardloop het.
Mobadi sê die voorval het hom groot laat skrik. Bloufontein Wildlife Park het intussen bevestig die dier behoort nie aan hom nie. Die park se bestuur sê al die diere is nagegaan en dat geen leeus of ander diere vermis word nie.
MEI Solutions het inwoners aangeraai om voorlopig weg te bly van buitelugaktiwiteite soos stap, draf en fietsry in die gebied waar die leeu moontlik rondbeweeg. Kinders en troeteldiere moet ook binne gehou word.
Indien iemand die dier gewaar, moet hulle dit nie probeer nader of vang nie, maar die owerhede so gou moontlik in kennis stel. Enige waarneming moet vanuit ’n veilige afstand aangemeld word, en inwoners word aangeraai om verdere inligting by amptelike plaaslike bronne en nooddienste te kry.
Hulle vra ook dat die waarskuwing met mense gedeel word wat moontlik deur die gebied reis.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

