Central SA
Vyf mans se hofsaak oor Transnet-kabeldiefstal uitgestel oor verblyfstatus─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:15 Mon, 23 Nov 2026
Vyf mans van Knysna sal op 1 Desember weer in ’n Noordwes-hof verskyn nadat hul saak uitgestel is terwyl hul verblyfregstatus in Suid-Afrika ondersoek word.
Thabo Majoro (41), Evans Kachese (23), Meck Rasoeu (52), Phole Nthunya (25) en Teboho Masiu (42) het Maandag (23/11) in die Potchefstroom-landdroshof verskyn. Hulle is na bewering met gesteelde Transnet-aluminiumkabel ter waarde van R2,7 miljoen betrap, sê kol. Anne Magakoe, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die saak is uitgestel terwyl gewag word dat die departement van binnelandse sake vier van die beskuldigdes se verblyfregstatus in die land bevestig. Rasoeu is die enigste Suid-Afrikaanse burger. Majoro, Nthunya en Masiu is van Lesotho en Kachese is ’n Zimbabwiese burger.
Die beskuldigdes is Vrydag (20/11) omstreeks 04:30 in Potchefstroom in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes inligting oor ’n verdagte vragmotor ontvang het.

Die kabels se waarde is byna 3 miljoen. Foto verskaf
Lede van die Potchefstroom-misdaadvoorkomingseenheid en die vliegeenheid het op inligting van die Belrex-kamerastelsel gereageer oor ’n verdagte vragmotor wat vanuit die Mooibank-omgewing in die rigting van Potchefstroom op pad was.
“Die vragmotor is voorgekeer en tydens ’n deursoeking het beamptes op ’n groot hoeveelheid aluminiumkabels afgekom. Twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem,” sê Magakoe.
Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat ’n wit Mazda glo die vragmotor begelei het. Dié voertuig is ook deur die polisie voorgekeer, met drie insittendes daarin. Al vyf verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle glo nie ’n verduideliking vir die besit van die kabel kon gee nie.
Die polisie het altesaam 5,3 ton aluminiumkabel met ’n beraamde straatwaarde van R2,7 miljoen teruggevind. Transnet-amptenare het die kabels positief as die maatskappy se eiendom geïdentifiseer.
Die polisie het beslag gelê op die kabel en albei voertuie wat na bewering by die voorval betrokke was. Sake van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom is geopen en word ondersoek.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

