On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Passievolle leerkrag word adjunkhoof van Primêre Skool Jordania

───   SUSAN MARÉ 13:56 Wed, 14 Oct 2026

Passievolle leerkrag word adjunkhoof van Primêre Skool Jordania | News Article
Dian van Wyk, nuwe adjunkhoof van Primêre Skool Jordania in Bethlehem, rig die o.9-krieketspan af. Foto verskaf

Een van die grootste uitdagings vir ’n onderwyser vandag is om by die veranderde behoeftes van leerders aan te pas.

“Ons leef in ’n vinnig veranderende wêreld waarin tegnologie, sosiale omstandighede en die verskillende uitdagings waarmee kinders gefronteer word, ’n groot invloed op hul ontwikkeling het.” So sê Dian van Wyk van Primêre Skool Jordania in Bethlehem wat pas tot adjunkhoof bevorder is.

Onderwys gaan lankal nie meer net oor die oordrag van kennis nie, maar ook oor die vorming van karakter en die ontwikkeling van waardes, sê hy.

“Onderwys is voorbereiding van leerders vir die lewe. Dit vereis ’n goeie balans tussen akademiese prestasie, dissipline en emosionele ondersteuning.”

Dian van Wyk en die skoolhoof, Stefan Bester righierdie span saam af. Foto verskaf

Ten spyte van hierdie uitdagings is dit vir Van Wyk ’n voorreg om ’n positiewe verskil in kinders se lewens te maak. Hy dink die grootste uitdaging is om te verseker dat elke kind raakgesien word. Elkeen moet die geleentheid kry om sy of haar volle potensiaal te gebruik.

Hy het in Bethlehem grootgeword en in 2011 aan Bethlehem Voortrekker Hoërskool gematrikuleer. Ná matriek het hy aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom in onderwys gaan studeer.

Hy is lief vir mense, veral kinders, en dit is sy strewe om altyd ’n verskil in mense se lewens te maak.


Sy eerste ses jaar as onderwyser was aan die Primêre Skool Ladybrand. Daarna het hy ’n oorplasing na Truida Kestell Primêre Skool gekry en in 2023 is hy tot departementshoof by Jordania bevorder.

Sy vakke by Jordania is Afrikaans Huistaal, LO gr. 6 asook Natuurwetenskap & Tegnologie gr. 5. Hy is baie lief vir sport en by verskeie sportsoorte betrokke. Saam met die skoolhoof, Stefan Bester, rig hy die o.9A-krieketspan af en is ook betrokke by streek- en provinsiale krieket as tesourier en keurder.

Watter eienskappe moet ’n onderwyser hê? “Ek glo ’n goeie onderwyser moet oor geduld, empatie, integriteit en ’n opregte passie vir kinders se ontwikkeling beskik.

Elke kind uniek

“Dit is belangrik om te besef dat elke kind uniek is en dat leerders nie almal op dieselfde manier leer of dieselfde uitdagings ervaar nie.”

Van Wyk beskryf homself as lojaal, passievol en hardwerkend. Hy is deel van ’n uitstekende onderwysspan by ’n skool met 839 leerders van gr. R tot 7. Die skool het 47 personeellede wat studenteonderwysers ook insluit.

Sy boodskap aan matrikulante wat wonder oor onderwys as loopbaan is dat hulle dit moet oorweeg as hulle ’n opregte passie het om met kinders te werk, en om ’n verskil in ander se lewens te maak.

‘Onderwys is een van min loopbane waar jy nooit verveeld sal wees nie’

“Onderwys is veel meer as ’n beroep; dit is ’n geleentheid om kennis oor te dra, karakter te vorm en die volgende generasie te help voorberei vir die toekoms.

“Onderwys is een van min loopbane waar jy nooit verveeld sal wees nie. In onderwys kan jy jouself elke dag uitdaag om dit wat jy doen na die beste van jou vermoë te doen.”

Sy droom vir die Primêre Skool Jordania is dat dit ’n skool sal wees waar elke leerder die geleentheid sal kry om sy of haar potensiaal te bereik – akademies sowel as op persoonlike vlak.

“My droom vir die skool is een waar uitnemendheid, goeie Christelike waardes, respek en dissipline die grondslag vorm. Leerders en onderwysers moet trots wees om deel van die Jordania-familie te wees.

“Ek wil graag sien dat ons voortbou op dit wat reeds goed is, om voortdurend daarna te streef om te verbeter. Om ’n omgewing te skep waar leerders veilig voel, is vir my baie belangrik.”

As Van Wyk nie in die klas is of bedrywig is met sportafrigting of skooldinge nie, is hy gelukkig tuis. Hy is met Alicia getrou, ’n onderwyseres aan Fouriesburg Primêre Skool. Die egpaar se eerste kind, Juvan, is vanjaar in Maart gebore.

OFM Nuus/Susan Maré cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.