On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ottosdal-plaasmoord: Protes beplan teen borgtog vir twee

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:28 Wed, 14 Oct 2026

Ottosdal-plaasmoord: Protes beplan teen borgtog vir twee | News Article
Hannetjie van Zyl is dood ná ’n plaasaanval naby Ottosdal. Foto verskaf

Agri Noordwes vra die publiek om Donderdag (15/10) aan ’n protesoptrede deel te neem om te help verseker dat twee mans wat van die moord op ’n Noordwes-boervrou aangekla word, nie borgtog ontvang nie.

Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage (29) sal na verwagting in die Ottosdal-landdroshof daarom aansoek doen. Hulle staan tereg weens die moord op Hannetjie van Zyl (55) en roof, sê kapt. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die beskuldigdes, wat twee dae ná die moord in hegtenis geneem is, het Donderdag (8/10) voorgekom en is sedertdien in aanhouding. Van Zyl is drie dae vantevore by die plaashek aan die Doornpan-pad, sowat 17 km van Ottosdal, aangeval toe sy die hek oopgemaak het nadat sy van die werk af gekom het. Sy is met ’n ysterpyp teen die kop geslaan en van haar handsak en selfoon beroof.

Hannetjie van Zyl en haar man, Sarel. Foto verskaf

Haar man, Sarel van Zyl, het haar ná die aanval aangetref en hulp ontbied. Sy is kort daarna aan ernstige kopbeserings dood, ondanks pogings om haar lewe te red.

Naudé Pienaar, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê die moord beklemtoon die dringende behoefte aan ’n ander benadering tot misdaad op plase en die hantering van misdaad in die algemeen.

Agri Noordwes waarsku die voortgesette toename in misdaad en die versuim om oortreders tot verantwoording te roep, bedreig die veiligheid van boere, hul gesinne en plaaswerkers. Die organisasie meen dringende optrede is nodig om tekortkominge in misdaadbekamping, ondersoeke en die strafregstelsel aan te pak.

“Daar word te veel aandag aan debatte oor misdaadstatistieke, motiewe en die klassifikasie van slagoffers gegee, terwyl families met die verwoestende gevolge van geweld moet saamleef,” sê Pienaar.

Hy meen die versuim om misdade behoorlik te ondersoek en oortreders aanspreeklik te hou dra by tot ’n situasie waarin mense nie voldoende beskerm word nie.

Pienaar sê daar moet groter dringendheid wees om die veiligheid van boere, hul gesinne en plaaswerkers te verbeter, veral in die lig van aanvalle wat volgens die organisasie spesifiek op mense in plattelandse gebiede gerig is. Hy kritiseer ook die land se misdaadvoorkoming- en strafregstelsel en sê die probleme daarmee moet openlik aangepak word.

Agri Noordwes het sy medelye met Van Zyl se familie en geliefdes uitgespreek. Die organisasie het ook erkenning gegee aan die mense wat tydens die aanval en ander soortgelyke voorvalle hulp verleen en gemeenskappe ondersteun het, dikwels onder moeilike en gevaarlike omstandighede.

Pienaar sê die organisasie sal voortgaan om veiligheidsinisiatiewe in landbougemeenskappe uit te brei, maar beklemtoon groter samewerking en ondersteuning is nodig. Hy doen ’n beroep op boere en almal wat van die landbousektor afhanklik is om aktief by veiligheidsinisiatiewe betrokke te raak.

Die Noordwes-polisie het vroeër bevestig die twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat ’n getuie hulle glo geïdentifiseer het. ’n Derde vermeende medepligtige is steeds op vrye voet.

Van Zyl is Woensdag (14/10) ter ruste gelê.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.