On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Benita
Listen Live Streams

Central SA

Dringende ingryping nodig weens ernstige waterkrisis in Vrystaat

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 07:17 Sat, 17 Oct 2026

Dringende ingryping nodig weens ernstige waterkrisis in Vrystaat | News Article
Inwoners in die Vrystaat moet planne maak om water te kry. Foto verskaf

Verskeie Vrystaatse dorpe ondervind die afgelope paar weke ernstige wateronderbrekings.

Die huidigde probleem raak Viljoenskroon en Rammulotsi in die Moqhaka-munisipaliteit, Memel in die Phumelela-munisipaliteit en Vredefort en Parys in die Ngwathe-munisipaliteit. Die provinsiale regering moet dringend ingryp om watervoorsiening te herstel en die probleem moet onafhanklik ondersoek word, sê, David McKay, DA-woordvoerder vir samewerkende regering en tradisionele sake in die Vrystaatse wetgewer.

“In Viljoenskroon en Rammulotsi is inwoners al langer as ’n week sonder water weens ’n foutiewe klep en pyp by die Viljoenskroon-watersuiweringsaanleg. Die situasie word vererger deur ’n tekort aan vervangingsmateriaal, lekkasies en onopgeloste probleme met die pompstelsel.”

Onderbrekings

McKay sê die probleme volg ná herhaalde onderbrekings oor sowat twee jaar. “Inwoners, ondernemings en gemeenskapsorganisasies het verskeie kere antwoorde en ’n onafhanklike ondersoek na die herstelwerk, verkrygingsprosesse en kontrakteursprestasie geëis.”

In Memel is die watervoorsiening glo ook onbetroubaar. Die onderbreking het op 8 Oktober begin nadat Eskom die kragtoevoer na die pompstasie weens die munisipaliteit se uitstaande rekening afgesny het.

Talle Vrystaatse inwoners sit al byna ’n week sonder water. Foto verskaf

Inwoners het na bewering self ’n onbruikbare kragopwekker herstel en betaal ook vir die brandstof wat nodig is om water te pomp. Die DA sê die situasie beklemtoon die behoefte aan beter skuldbeheer, instandhouding van noodstelsels en kommunikasie met inwoners.

“In Vredefort en Parys is die betroubare watervoorsiening ontwrig nadat 41 boorgate weens ’n betalingsgeskil met Basieng Construction gesluit is. ’n Tydperk van drie weke om die geskil op te los het verstryk sonder dat ’n oplossing bereik is.” 

Inwoners koop glo gebottelde water en het kommer uitgespreek oor onvoldoende watervlakke in opgaartenks. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie is ook oor die situasie genader, terwyl bewerings oor moontlike watergehalteprobleme en verkrygingsonreëlmatighede verdere ondersoek verg.

Die DA doen ’n beroep op die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake om onmiddellik noodwatervoorsiening te verseker. Die party eis ook dat die munisipaliteite herstelplanne met duidelike sperdatums publiseer en amptenare of kontrakteurs aanspreeklik hou indien wangedrag bewys word.

OFM Nuus

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.