On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Sakeman se verhoor weens tegniese probleme in hof uitgestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:41 Fri, 27 Nov 2026

Sakeman se verhoor weens tegniese probleme in hof uitgestel | News Article
Wikus van Niekerk en Adriaan Badenhorst. Foto Charne van der Merwe

’n Bloemfonteinse sakeman se verhoor kon nie Donderdag (26/11) in die hof begin nie weens tegniese probleme.

Die hofsaal waar die verhoor aanvanklik sou plaasgevind het, het tegniese probleme ondervind, waarna die saak na ’n ander hofsaal moes verskuif word. Die oorvol hofrol het egter beteken dat Adriaan Badenhorst (40) se saak na verwagting eers Vrydag (27/11) in die Bloemfonteinse landdroshof sal voorkom.

Beeldmateriaal wat na bewering wys hoe twee Vrystaatse polisiebeamptes Badenhorst ernstig aanrand, sal dan glo in die hof vertoon word. Hy staan tereg op drie aanklagte wat verband hou met die rig van ’n vuurwapen en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy ontken skuld op al die aanklagte.

Wikus van Niekerk, Badenhorst se regsverteenwoordiger, het voorheen gesê hy het reeds die beeldmateriaal aan die staat beskikbaar gestel voordat dit in die hof vertoon en formeel op rekord geplaas sal word.

Adriaan Badenhorst. Foto: Facebook

Dit is egter nog onseker of die staat beswaar teen die vertoning daarvan sal maak. Die beeldmateriaal is afkomstig van ’n veiligheidskamera by Badenhorst se woning en wys glo hoe twee polisiebeamptes hom op 2 November 2024 in sy erf in Groenvlei skop en slaan.

Die polisie het na bewering op klagtes gereageer dat Badenhorst met ’n vuurwapen in die swembad geskiet het. Hy het glo daarna die wapen op polisiebeamptes gerig en na bewering ook ’n veiligheidswag aangerand.

Van Niekerk sê dit was egter ’n speelgoedwapen wat klappers afskiet. Konst. Johannes Baardman, een van die klaers, het vroeër getuig dat Badenhorst die wapen op hom en sy kollegas gerig en hulle gedreig het. Hy het glo ook die sneller getrek, maar die vuurwapen het slegs ’n geluid gemaak.

Baardman is glo tans in aanhouding, maar Van Niekerk sê hy het nog geen antwoord op sy navraag oor die redes hiervoor ontvang nie.


“My kliënt is net so in sy onderbroek en T-hemp in ’n vangwa gelaai. Hulle het byna drie uur met hom rondgery voordat hy na die Pelonomi-hospitaal geneem is en daar vasgestel is sy ribbes is gebreek.”

Badenhorst het die dag ná die beweerde aanranding in sy onderbroek in die hof verskyn en is sowat ses maande lank aangehou voordat hy in April 2025 op borgtog vrygelaat is.

Die tweede klaer, ’n veiligheidswag, het nie tydens die vorige hofverskyning opgedaag nie. Die ander polisiebeampte wat tydens die voorval aan diens was, is ook ’n getuie in die saak, maar het nog nie getuig nie.

Van Niekerk het voorheen gesê die tyd wat vir die hofverrigtinge beskikbaar was, was beperk en daar was net genoeg tyd vir een persoon om te getuig.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dgcvdw/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.