On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-sakeman bly agter tralies ná Inhegtenisneming op lughawe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:03 Sun, 18 Oct 2026

Noordwes-sakeman bly agter tralies ná Inhegtenisneming op lughawe  | News Article
Suliman Carrim. Foto verskaf

’n Noordwes-sakeman sal na verwagting Maandag (19/10) weer in die hof verskyn nadat sy inhegtenisneming op ’n lughawe tot ’n strafregtelike saak gelei het.

Suliman Carrim het Vrydag (16/10) in die Pretoriase landdroshof verskyn nadat hy Donderdagaand op die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park in hegtenis geneem is. “Hy staan tereg op ’n aanklag van minagting van die hof weens sy beweerde versuim om voor die Madlanga-kommissie te verskyn,” sê Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder.

Die staat gaan sy borgtogaansoek teenstaan en voer aan dat daar onsekerheid is oor sy woonadres. Daar is ook kommer dat hy ’n vlugrisiko is. Carrim het glo vier verskillende woonadresse. Die ondersoekbeampte het die hof gewaarsku dat hy moontlik kan vlug indien hy op borgtog vrygelaat word.

Sy regsverteenwoordiger het gevra dat hy op waarskuwing vrygelaat word en sy gesondheid as rede aangevoer. Die hof is meegedeel dat hy medikasie gebruik en dat hy dit glo nog nie vir die dag geneem het nie.

Carrim het op sy beurt gesê sy beplande reis na Dubai was vir geestelike verryking – iets wat hy jaarliks doen. Hy het ook volgehou dat hy nie ’n misdadiger is nie en gesê hy sal tydens die regsproses verduidelik waarom hy nie voor die kommissie verskyn het nie.

Die kommissie ondersoek beweerde misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie binne die strafregstelsel. Carrim se getuienis is belangrik vir die ondersoek na finansiële transaksies wat hom met omstrede sakelui verbind.

Hy het in Maart voor die kommissie getuig dat hy R10 miljoen aan Vusimuzi Matlala geleen het. Een van Carrim se maatskappye het glo ook meer as R42 miljoen aan Hangwani Maumela betaal.

Matlala se maatskappy, Medicare 24 Tshwane, het voorheen ’n polisietender van R360 miljoen ontvang. Maumela is intussen verbind met die beweerde korrupsieskandaal van R2 miljard by die Tembisa-hospitaal.

Die kommissie het Carrim se inhegtenisneming verwelkom en hom daarvan beskuldig dat hy herhaaldelik versuim het om dokumente en inligting te verskaf wat vir die ondersoek benodig word. Sy getuienis is verskeie kere uitgestel nadat hy gesondheidsprobleme aangevoer het. Carrim bly in aanhouding.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.