On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Omvang van voorgestelde diere-identifikasieregulasies bevraagteken

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:00 Sun, 18 Oct 2026

Omvang van voorgestelde diere-identifikasieregulasies bevraagteken | News Article
Dr. Wynand Boshoff. Foto verskaf

Die voorgestelde regulasies oor diere-identifikasie het kommer in die landbougemeenskap ontlok oor die diere wat daardeur geraak sal word en die uitvoerbaarheid van die vereistes.

“Daar is vrae oor die wetgewing waaronder die konsepregulasies gepubliseer is en watter diere daarby ingesluit word, terwyl die minister van landbou sê die herpublikasie is daarop gemik om openbare deelname te verleng, sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus se landbouwoordvoerder. 

Boshoff sê die konsepregulasies is kragtens die Diereverbeteringswet van 1998 gepubliseer, eerder as die Wet op Identifikasie van Diere van 2002. “Dit skep onsekerheid oor die omvang van die voorgestelde maatreëls, aangesien die definisie in eersgenoemde wet verwys na diere of rasse wat ingevolge die wet verklaar is.”

Hy meen die regulasies handel dus oor diere wat by stamboekverenigings ingeskryf is en onder die bestuur van stoettelers val, eerder as gewone plaas- en huisdiere.

Die party waarsku dat die voorgestelde vereistes onhaalbaar kan wees indien dit op ’n wye verskeidenheid diere toegepas word, van bye en konyne tot beeste. Die VF Plus doen daarom ’n beroep op die minister om te bevestig presies watter diere deur die regulasies gedek word.

Willie Aucamp, minister van landbou, sê die konsepregulasies is herpubliseer nadat die Nasionale Raad van Tradisionele en Khoi-San-leiers aangedui het dat hulle nie tydens die aanvanklike publikasie voldoende geleentheid gehad het om kommentaar te lewer nie. Ander rolspelers in die bedryf het ook versoek dat die kommentaartydperk verleng word.

“Op grond van hulle versoek en ook versoeke van ander rolspelers in die bedryf, het ons doodeenvoudig weer die vorige regulasie wat vir publieke kommentaar gepubliseer was, geherpubliseer sodat ons die kommentaartydperk in effek daarvan dan kon verleng.” 

Aucamp beklemtoon die publikasie van konsepregulasies vir openbare kommentaar beteken nie dat dit reeds wetgewing is nie. Die proses bied die publiek en belanghebbendes die geleentheid om inligting te verskaf en wysigings voor te stel wat die minister in ag moet neem.

“Die departement is bewus daarvan dat daar onsekerheid bestaan oor watter wetgewing op die regulasies van toepassing behoort te wees en dat dit moontlik in 2025 ingevolge die verkeerde wet gepubliseer is.”

“Hy sê dié onsekerheid beteken egter nie dat die publiek se insette nie ingewin moet word nie, aangesien dit die minister sal help om ’n ingeligte finale konsep voor te berei.”

Hy beskryf die herpublikasie as ’n verlenging van ’n bestaande proses om insette te verkry, eerder as die bekendstelling van nuwe regulasies.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn 066487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.