Central SA
Afknouery: Die grap wat een kind laat lag, kan ’n ander seermaak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:55 Mon, 26 Oct 2026
Vir sommige kinders is dit dalk net ’n grap, maar vir die kind wat die teiken is, laat dit ’n seer wat lank voortduur, selfs nadat al die ander ophou lag het.
Dié boodskap is tydens ’n teenboelie-aanbieding aan sowat 700 leerders by ’n laerskool in Potchefstroom, Noordwes, oorgedra. Die belangrikheid van respek, eerlikheid en die moed om vir ander op te staan, is beklemtoon.
AfriForum het die Bybelse Wapenrusting van God in Efesiërs 6 as vertrekpunt gebruik om leerders te help onderskei tussen onskuldige pret en gedrag wat ander verneder of seermaak, sê Mari-Louise Erasmus, aanbieder van die organisasie se teenboelieprogram.
“Om op te staan beteken nie om ander af te breek nie, maar om die moed te hê om op te tree vir dit wat reg is. Dit beteken om nié saam te lag wanneer iemand verneder word nie; om ’n kind wat uitgesluit word, in te trek en om hulp te vra wanneer boeliegedrag voorkom.”
Janke-lee Engelbrecht (13) word sedert 17 September in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg behandel nadat sy glo weens ’n afknouery ’n klomp medikasie by haar huis in Brakpan ingeneem het in ’n selfdoodpoging.
“Sy is tans stabiel, maar is Saterdag (24/10) weer onder sedasie geplaas omdat sy steeds baie onrustig is en koors ontwikkel,” sê haar pa, Henricus.
Die verpleegkundige het volgens die familie verduidelik Janke-lee het die rus nodig. Die familie vra dat mense aanhou bid vir haar herstel.
Henricus het vroeër aan OFM Nuus vertel van sy kommer oor beweerde boeliegedrag wat sy dogter glo sedert vroeër vanjaar by die skool ervaar het.
Sy raad aan ouers is om hul kinders se emosies en gedragsveranderinge ernstig op te neem en seker te maak dat hulle die nodige ondersteuning kry. “Luister na jou kind.”
Erasmus sê om boeliegedrag te voorkom, verg nie net optrede van onderwysers en ouers nie, maar ook die moed van kinders om nie stil te bly wanneer iemand anders se waardigheid aangetas word nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.


