On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Kenner gee raad vir uitputting voor Desember

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:58 Tue, 27 Oct 2026

Kenner gee raad vir uitputting voor Desember | News Article
Praat eerder vroeër as later met ’n sielkundige, berader of lewensafrigter. Foto ter illustrasie, iStock

Met die einde van die jaar in sig, raak dit vir baie mense al hoe moeiliker om gemotiveerd te bly namate moegheid, werkdruk en emosionele uitputting sy tol begin eis.

Hoewel gewone moegheid dikwels met rus verlig kan word, is uitbranding die gevolg van langdurige stres wat ’n mens se liggaamlike en emosionele welstand kan beïnvloed. “Stres is een van die grootste bydraende faktore tot uitbranding,” sê Smit Bindeman, ’n sielkundige van Mind Matters wat al 15 jaar praktiseer.

“Ons is nie geleer hoe om stres te hanteer nie.” Hy verduidelik uitbranding kom voor op ’n spektrum en sosiale konneksie is een van die belangrikste maniere is waarop stres meer hanteerbaar gemaak kan word. Die invloed van die Covid-19-pandemie en tegnologie het egter daartoe bygedra dat mense al hoe meer op sosiale vlak geïsoleer raak.

Daar is ’n belangrike verskil tussen gewone moegheid en uitbranding. “Moegheid is fisiek, terwyl uitbranding fisieke en emosionele moegheid is wat deur langdurige stres veroorsaak word.”

Wanneer ’n kind se seer onsigbaar word: Die gevaar van boeliegedrag | News Article

Smit Bindeman. Foto verskaf

“Dit beteken dat ’n mens nie bloot moet aanvaar dat uitputting deel van ’n besige lewe is nie, veral wanneer dit jou vermoë begin beïnvloed om jou werk te doen en jou daaglikse verantwoordelikhede na te kom.”

Lae energievlakke, merkbare gewigsverlies of -toename, slaapprobleme, ’n swak selfbeeld, gevoelens van waardeloosheid, ’n negatiewe lewensuitkyk en ’n afname in konsentrasie kan alles waarskuwingstekens wees dat dit tyd is om hulp te oorweeg.

Die druk om sperdatums te haal, take af te handel en nog verantwoordelikhede voor die Desembervakansie na te kom, kan veroorsaak werknemers voel al hoe meer oorweldig.

Soorte stres

Bindeman onderskei tussen vier soorte stres: eustres, wat ’n positiewe vorm van stres is wat ’n mens kan motiveer om ’n sperdatum te haal; distres, wat ’n mens kan lamlê; akute stres, wat kortstondig is; en chroniese stres, wat oor ’n lang tydperk voortduur.

Hoewel ’n mate van stres motivering kan bevorder, kan die kombinasie van distres en chroniese stres oor ’n lang tydperk problematies raak. Wanneer mense reeds uitgeput is, kan die verwagting dat hulle nog twee maande moet deurdruk, die situasie verder bemoeilik.

“Die manier waarop mense oor hul omstandighede dink, speel ook ’n rol. Die brein vorm verbindings wanneer inligting herhaal word of wanneer sterk emosies daarmee gepaardgaan. Met verloop van tyd kan hierdie patrone beïnvloed hoe mense toekomstige situasies ervaar.”

Goeie slaap is ook ’n belangrike beginpunt wanneer ’n mens jou energievlakke wil verbeter. Foto: iStock

Wanneer iemand herhaaldelik vir hom- of haarself sê ’n bepaalde week gaan moeilik of sleg wees, kan dié verwagting die ervaring van die week beïnvloed. In die sielkunde staan dit as ’n selfvervullende voorspelling bekend. Dit beteken nie dat stres bloot ’n kwessie van denke is nie, maar wel dat die verwagting waarmee ’n mens ’n situasie benader, jou ervaring daarvan kan beïnvloed.

Vir mense wat reeds moeg en ongemotiveerd voel, hoef die oplossing nie noodwendig drastiese veranderinge te behels nie. Bindeman beveel aan dat mense elke dag minstens tien minute vir selfsorg opsysit en bewustelik oefen om in die oomblik teenwoordig te wees.

Goeie slaap is ook ’n belangrike beginpunt wanneer ’n mens jou energievlakke wil verbeter. “Vermy skerms twee uur voordat jy gaan slaap, aangesien dit kan help om slaapgehalte te verbeter.”

Praktiese stappe

Ander praktiese stappe sluit in om suikerinname te verminder, gereeld te oefen, voedsame kos te eet en tyd te maak om met iemand te praat wanneer dinge oorweldigend raak.

Dit kan ook nuttig wees om ’n bloedtoets te laat doen om vas te stel of daar moontlike tekorte aan vitamiene of minerale is wat aandag benodig. “Wanneer werk en persoonlike verantwoordelikhede ophoop, kan dit voel asof daar eenvoudig nie genoeg ure in die dag is nie,” sê Bindeman.

Beplanning

’n Dagboek of dagbeplanner kan help om take te prioritiseer en tyd meer doelbewus te bestuur. Deur neer te skryf wat gedoen moet word en wanneer dit afgehandel moet word, hoef ’n mens nie voortdurend ’n lang lys take in jou kop te probeer onthou nie. “Dit verwyder baie onnodige angs as daar ’n plan is.” 

Waar moontlik behoort werknemers ook ’n duidelike grens tussen werk en hul persoonlike lewe te stel deur ná werksure hul fone eenkant te sit en hul tyd te gun om af te skakel.

Werkgewers het ook ’n rol om te speel deur die werkomgewing en werknemers se werklading te evalueer. Foto: iStock

Een van die uitdagings waarmee mense aan die einde van die jaar worstel, is dat hulle dikwels eers tyd vir rus begin maak wanneer hulle reeds uitgeput is. “Mense moet besin oor wat rus vir hulle doeltreffend maak. Vir sommige is dit tyd by die see, terwyl ander daarby baat vind om uit hul gewone roetine weg te breek, hul fone weg te sit of bloot tyd sonder werkverpligtinge deur te bring.”

Indien mense hierdie elemente van rus deur die jaar ’n groter prioriteit maak kan die laaste deel van die jaar moontlik minder oorweldigend voel.

Bindeman sê werkgewers moet gereeld die werkomgewing en werknemers se werklading evalueer. “Dit kan sinvol wees om ’n konsultant of bedryfsielkundige te raadpleeg om uitdagings in die werkomgewing te identifiseer en moontlike oplossings te bespreek.”

Hoewel baie mense glo hulle moet net nog druk om deur November en Desember te kom, waarsku hy dat dit belangrik is om nie professionele hulp uit te stel totdat uitputting hul daaglikse funksionering ernstig beïnvloed nie.

Praat eerder vroeër as later met ’n sielkundige, berader of lewensafrigter. “Die gesprek kan help om klein maar betekenisvolle veranderinge te identifiseer en patrone te deurbreek wat telkens tot dieselfde uitkoms lei.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.