On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

‘KI kan nie professionele oordeel vervang’ – Bloemfonteinse apteker

───   SUSAN MARÉ 14:26 Thu, 29 Oct 2026

‘KI kan nie professionele oordeel vervang’ – Bloemfonteinse apteker | News Article
Dr. Martlie Mocke-Richter en haar man, Chris, by die plegtigheid. Foto verskaf

’n Apteker van Bloemfontein is in die kollig nadat sy dubbele nasionale erkenning van die Suid-Afrikaanse Aptekersraad ontvang het op die Nasionale Aptekerskonferensie in Durban.

Dr. Martlie Mocke-Richter is nie net die algehele wenner van die Nasionale Pioneer-aptekerprys nie, maar het ook die kategorie Openbare Institusionele Apteker van die jaar ontvang. Sy is een van slegs vier mense in die geskiedenis wat die Nasionale Pioneer-toekenning kry.

Sy het in Nelspruit (Mbombela) grootgeword en ná skool haar BA. in Farmasie (B.Pharm.) en haar magistergraad in Farmasie (M.Pharm.), laasgenoemde met lof, aan die Noordwes-Universiteit verwerf.

Leierskap

Haar leierskapsvermoë het reeds in haar studiejare na vore getree, en sy het in die 2009/10-termyn in die universiteit se studenteraad gedien. Sy het ook die NWU se eerste tennisspan verteenwoordig en as tenniskaptein gedien.

Mocke-Richter het haar P.hD. in Kliniese Farmakologie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf, met navorsing oor die gebruik van biologiese geneesmiddels in die Suid-Afrikaanse konteks.

Dr. Martlie Mocke-Richter van Bloemfontein is gekroon as die beste apteker in Suid-Afrika. Foto verskaf

Sy vertel dit is bevredigend wanneer kennis tot beter pasiëntesorg lei. “Dit maak my gelukkig wanneer ons ’n behandeling kan verbeter, ’n moontlike medisyneverwante probleem betyds kan voorkom of ’n pasiënt met groter begrip en vertroue kan ondersteun,” sê sy.

“My werk fokus op kliniese farmakologie, veilige medisynegebruik en antimikrobiese rentmeesterskap, asook die verantwoordelike gebruik van onder meer antibiotika. Dit sluit in navorsing, opleiding en samewerking met gesondheidswerkers.

“Ek is ook by die Commonwealth Pharmacist Association se Antimicrobial Stewardship Champions-program betrokke as ’n Suid-Afrikaanse kampvegter.” Die kern van haar werk is om wetenskaplike bewyse in praktiese pasiëntsorg te omskep. “Agter elke voorskrif en laboratoriumuitslag is ’n mens wie se lewe deur ons besluite geraak word.” 

Dr. Martlie Mocke-Richter saam met haar man, Chris, ’n Suid-Afrikaanse stoetboer wie se stoetery, Richter Simbras, internasionale aansien geniet. Hulle het twee dogters, Sanita en Jana. Foto verskaf

Tegnologiese vooruitgang het aptekers se vermoë om inligting te vind, te beoordeel en in die praktyk toe te pas, aansienlik verbeter. Digitale pasiëntrekords, elektroniese voorskrifte en programme wat moontlike geneesmiddelinteraksies identifiseer, kan tot veiliger pasiëntsorg bydra.

“Vir my is tegnologie op sy beste wanneer dit ons kundigheid versterk en tot veiliger behandeling en meer persoonlike pasiëntesorg bydra. Virtuele platforms maak dit ook moontlik om kundigheid met gesondheidswerkers in afgeleë gebiede te deel en samewerking binne multidissiplinêre spanne te bevorder.”

Persoonlike betrokkenheid

Sy meen tegnologie en kunsmatige intelligensie kan aptekers se werk ondersteun en hul kundigheid versterk, maar nie hul professionele oordeel, verantwoordelikheid en persoonlike betrokkenheid vervang nie.

“Ek verwelkom die geleenthede wat tegnologie en kunsmatige intelligensie bied om inligting vinniger te ontleed, roetinetake te vereenvoudig en meer tyd vir pasiëntsorg beskikbaar te stel.”


Die samewerking tussen aptekers en dokters is vir haar een van die fondamente van goeie pasiëntsorg. Dokters en aptekers bring aanvullende kennis na die behandelingspan. Die apteker dra besondere kundigheid oor medisynekeuse, dosering, interaksie, newe-effekte en die monitering van behandeling by.

“Ek het groot waardering vir multidissiplinêre spanwerk. Geen enkele beroepsgroep het al die antwoorde nie; elke spanlid bring unieke kundigheid wat tot beter pasiëntsorg bydra.”

Hoe bly aptekers op die hoogte van nuwe medisyne en ontwikkelings in hul vakgebied? Die leerproses eindig nie met graduering nie, sê sy. Aptekers brei voortdurend hul kennis uit deur wetenskaplike publikasies, behandelingsriglyne, kursusse, kongresse, webinare en gesprekke met kollegas. Die uitdaging is om die kennis krities te beoordeel en sinvol in die praktyk toe te pas.

Aptekers se rol

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) beoordeel die gehalte, veiligheid en doeltreffendheid van medisyne voordat dit geregistreer word. Medisyneontwikkelaars en navorsers voer die nodige studies uit en dien die wetenskaplike bewyse in vir beoordeling.

Aptekers speel ’n onontbeerlike rol in pasiëntsorg deur te help verseker dat medisyne veilig, doeltreffend en verantwoordelik gebruik word. Hul kundigheid strek van die beoordeling van voorskrifte en die identifisering van moontlike geneesmiddelinteraksies tot die optimalisering van behandeling en die voorkoming van medisyneverwante skade.

Die medisyne wat ’n apteek aanhou, word deur pasiëntbehoeftes, beskikbaarheid, koste en verkrygingsbeleid bepaal. Foto: Pexels

Saam met ander gesondheidswerkers help hulle om behandeling by elke pasiënt se behoeftes aan te pas, terwyl hulle pasiënte met die kennis en vertroue toerus om hul medisyne korrek te gebruik. In hospitale rig formulariums en behandelingsriglyne dié keuses om veilige, doeltreffende en kostebewuste behandeling te ondersteun. 

Antibiotika kan lewens red, maar werk slegs teen bakteriële infeksies nie teen die virusse wat verkoue en griep veroorsaak nie. Waarom bly daar dan vir sommige pasiënte so min antibiotika opsies oor? Sy verduidelik dat bakterieë weerstand teen antibiotika kan ontwikkel, sodat middels wat voorheen doeltreffend was, hulle nie meer kan doodmaak of hul groei kan stuit nie.

Wanneer bakterieë teen verskeie antibiotika bestand raak, word infeksies moeiliker om te behandel en raak doeltreffende behandelingsopsies al hoe skaarser. Dit is die bakterieë wat weerstand ontwikkel, nie die pasiënt se liggaam nie.

Mediese vooruitgang

“Antibiotika is ’n kosbare, lewensreddende hulpbron. Elke onnodige of verkeerde gebruik kan daartoe lei dat ons dié middels se doeltreffendheid verloor. Deur antibiotika vandag verantwoordelik te gebruik, help ons om die kans op doeltreffende behandeling vir môre se pasiënte te beskerm.” 

Ons beleef beslis ’n buitengewone tyd van mediese vooruitgang. “Biologiese medisyne wat met behulp van lewende selle of organismes vervaardig word, het byvoorbeeld die behandeling van sekere kankers, rumatoïede artritis en ander inflammatoriese siektes ingrypend verbeter.

“Baie van hierdie middels teiken spesifieke prosesse in die liggaam en bied waardevolle behandelingsmoontlikhede, maar vereis steeds noukeurige pasiëntkeuse en monitering.”

‘Meer aanvullings beteken egter nie noodwendig beter gesondheid nie’

Aanvullings kan ’n waardevolle rol speel wanneer daar ’n bevestigde tekort of ’n spesifieke voedingsbehoefte is. “Meer aanvullings beteken egter nie noodwendig beter gesondheid nie. Die waarde lê daarin om die regte aanvulling om die regte rede te gebruik.” Sy moedig mense aan om hul apteker te vertel van al die medisyne, aanvullings en kruieprodukte wat hulle gebruik en om dié produkte waar moontlik saam te bring.

Benut jou apteker se kundigheid. Vra waarvoor jou medisyne is, hoe om dit korrek te gebruik en watter tekens verdere hulp vereis. Dit kan ’n groot verskil aan jou gesondheid maak. “Vir my gaan aptekerswese daaroor om kennis met deernis toe te pas. Elke pasiënt verdien dat ons aandagtig luister, deeglik dink en ons beste professionele oordeel gebruik.”

Dr. Martlie Mocke-Richter en haar man, Chris. Foto verskaf

Sy beskryf haarself as gelowig, doelgerig en sorgsaam – eienskappe wat reeds in haar ouerhuis gevorm is. Haar ouers, Sanita en Wouter Mocke, is haar grootste rolmodelle. Deur hul voorbeeld het hulle vir haar ’n dieper betekenis aan sukses gegee: Dit lê nie bloot in persoonlike prestasies nie, maar ook in die bydrae wat ’n mens tot ander se lewe maak. 

Haar ouers het haar van kleins af op wêreldreise en na kongresse saamgeneem wat haar verwysingsraamwerk verbreed en ’n blywende belangstelling in uiteenlopende kulture, die uitruil van kennis en lewenslange leer aangewakker het. Hul liefde, vertroue en ondersteuning het ’n stewige fondament vir haar persoonlike en professionele ontwikkeling gelê.

Een van hul kosbaarste geskenke is die Christelike grondslag waarop sy haar lewe bou. Haar geloof dra haar deur uitdagings en herinner haar om met dankbaarheid en in afhanklikheid van God te leef. Sy vind krag in die woorde: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Filippense 4:13).

Tyd saam met haar gesin is van onskatbare waarde. Haar diepste vreugde lê in die eenvoud van die alledaagse: Die saamwees, gesprekke en klein oomblikke wat ’n gesin se lewe betekenis gee.

OFM Nuus/Susan Maré dg cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.