Central SA
God ‘steeds in beheer’ – dominee ná Noordwes-plaasaanval─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:32 Thu, 29 Oct 2026
“God het nie beheer verloor nie.”
Dit was die boodskap van ds. Johan Raubenheimer van die NG gemeente Potchefstroom-Noord Woensdagaand (28/10) aan lede van die gemeenskap wat buite Mediclinic Potchefstroom byeengekom het om te bid vir Donovan Marx (50), wat ernstig beseer is tydens ’n plaasaanval. Die gebedsbyeenkoms is gehou enkele ure ná die aanval, wat omstreeks 08:30 plaasgevind het.
Raubenheimer het die groep aangemoedig om in moeilike tye met deernis en geloof te reageer, eerder as om deur woede en vrees oorweldig te word. Hy het op grond van Jeremia 12:5 verwys na die uitdagings waarvoor mense te staan kom en gesê ’n onvoorspelbare wêreld verwag van hulle om paraat en waaksaam te wees.
“Ons is nie beter as ander mense nie; ons is anders. Ons andersheid lê daarin dat ons verloste mense is,” sê hy. Hy het ook na Psalm 91 verwys en gesê God is ’n toevlug en veilige vesting. Gelowiges moet hul vertroue in Hom stel, selfs wanneer omstandighede buite hul beheer voel.

Lede van die nooddienste het ook die gebedsbyeenkoms bygewoon. Foto verskaf
“Mense moet onthou dat God steeds in beheer is, selfs wanneer hulle verslae staan oor gebeure wat hulle nie verstaan nie.”
Die groep het ook gebid vir ander pasiënte in die hospitaal, veral dié in intensiewe sorg, asook vir die dokters en verpleegpersoneel wat na hulle omsien. Raubenheimer het sy dank uitgespreek teenoor die mediese personeel wat in moeilike omstandighede hulp verleen en gebid dat hulle die nodige kalmte en kundigheid sal hê om pasiënte te behandel.
“Marx se plaaswerkers en hul gesinne moenie vergeet word nie. Hulle is ook deur die trauma geraak. Ons eerste reaksie behoort te wees om deernis en meegevoel te betoon,” sê Raubenheimer. Hy moedig die gemeenskap aan om verantwoordelik te reageer en nie toe te laat dat woede en verdere verontmensliking die manier bepaal waarop mense oor die aanval praat nie.

Hy waarsku mense moenie te vinnig oordeel oor gebeure waar hulle nie self teenwoordig was nie, en dat die aanval nie gebruik moet word om verdeeldheid of rassespanning aan te wakker nie.
“Dit is belangrik om op ’n verantwoordelike manier te reageer, terwyl daar steeds van leiers en die veiligheidsowerhede verwag word om aandag aan plaasaanvalle en die veiligheid van kwesbare gemeenskappe te gee.”
Die gebedsbyeenkoms is op kort kennisgewing deur Zelona van der Merwe van die VF Plus en Angelique Lottering van Vat Verniet Tafel en Mooirivier Beskerming gereël. “Ons wil ons gemeenskap dien. Ons wil ’n beter dorp en ’n beter Suid-Afrika hê,” sê Van der Merwe.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 0664871427.
