On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Familie van Noordwes-boer diep geraak deur landwye ondersteuning

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:54 Fri, 30 Oct 2026

Familie van Noordwes-boer diep geraak deur landwye ondersteuning | News Article
Donovan en Louise Marx. Foto verskaf

Die familie van ’n Noordwes-beesboer wat wreed gemartel is, is oorweldig deur die liefde, gebede en ondersteuning wat hulle sedert die aanval van oor Suid-Afrika heen ontvang.

Donovan Marx se vrou, Louise, sê sy het nie woorde om die gemeenskap van Ventersdorp en Potchefstroom, asook mense landwyd te bedank wat bid en vir hulle hulp en ondersteuning aanbied nie. Hy het reeds Woensdag (28/10), ’n paar uur ná die aanval, ’n operasie ondergaan en is in ’n stabiele toestand in die kritiekesorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom. 

Hoewel hy aanvanklik geweldige pyn ervaar het, het dit sedertdien verbeter. Sy beserings is egter steeds ernstig en sy herstel bly die familie se grootste prioriteit. Drie aanvallers het omstreeks 08:00 op die plaas toegeslaan, die elektriese heining geknip en ’n plaaswerker wat gras gesny het, oorrompel en vasgebind.

Marx was in daardie stadium by sy beeste en het omstreeks 08:30 na die erf teruggekeer. Die drie aanvallers is weg met drie van sy wapens wat hulle uit sy kluis gesteel het, asook met sy rooi Isuzu-enkelkajuitbakkie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die familie het ook hul besondere waardering uitgespreek teenoor die nooddienspersoneel, mediese personeel, die polisie, plaaslike boere, veiligheidsrolspelers en gemeenskapslede wat tydens en ná die aanval hulp verleen het. Hulle vra die publiek moenie oor die omstandighede of moontlike motief van die aanval bespiegel nie, maar die polisie in staat stel om hul ondersoek ongehinderd voort te sit.

Die familie versoek ook dat hul privaatheid gedurende dié uiters moeilike tyd gerespekteer word. Besoeke aan Donovan word op aanbeveling van sy mediese span streng beperk tot nabye familielede wat vooraf deur Louise goedgekeur is.

Enige fondsinsamelings, skenkingsveldtogte of openbare inisiatiewe wat in Donovan of Louise se naam aangepak word, moet eers met hul gemagtigde verteenwoordigers gekoördineer en deur hulle goedgekeur word.

“Geen persoon of organisasie is sonder die familie se uitdruklike toestemming gemagtig om namens hulle geld in te samel of openbare inisiatiewe te loods nie,” sê Marlene Steyn, die familie se prokureur van Steyn du Toit Ingelyf.

“Hulle vra ook dat niemand hul omstandighede vir persoonlike of finansiële gewin uitbuit nie.” Die familie waardeer geskenke en pakkies, maar kan dit nie by die hospitaal ontvang nie. Kontak Steyn om aflewerings te reël.

Willie Aucamp, minister van landbou, het sy kommer oor die aanval uitgespreek en sê daar is nie plek in Suid-Afrika vir dié sinnelose en barbaarse optrede nie. “Die aanval beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan dat die polisie die voorkoming van plaasaanvalle en plaasmoorde as ’n prioriteit moet hanteer. 

“Die mense op ons land se plase verdien om veilig te wees. Hierdie wreedheid mag nooit ons boere se normaal word nie,” sê hy.

Enigeen met inligting oor die aanval kan speurkapt. Bonita Dry, bevelvoerder van die Ventersdorp-speurtak, by 082 373 7781of Stop Misdaad by 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan ook vanaf ’n slimfoon deur die MySAPS-app gestuur word. Alle inligting sal as vertroulik beskou word.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.