On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Nog ’n tiener verdrink in Noord-Kaapse munisipale swembad

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:09 Mon, 02 Nov 2026

Nog ’n tiener verdrink in Noord-Kaapse munisipale swembad | News Article
Eugene Tieties. Foto: Facebook

Nog ’n Noord-Kaapse skoolseun het binne twee weke in ’n munisipale swembad in die provinsie verdrink.

Eugene Tieties (15), ’n leerder aan die Sekondêre Skool A.J. Ferreira, is Saterdag (31/10) dood nadat hy in die munisipale swembad op Upington verdrink het. Sy liggaam is deur ’n lid van die publiek onder die water ontdek, sê kapt. Nomthandazo Mnisi, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die polisie is ontbied en alle betrokke nooddienste is na die toneel, waar hy dood verklaar is. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.” Dit is die tweede verdrinking van ’n tienerseun in ’n munisipale swembad. Thembi Nkosi (15) het op 17 Oktober in die Karen Muir-swembad in Kimberley verdrink.

Thembi en sy vriende het na bewering omstreeks 16:30 besluit om oor die doringdraadheining van die swembadterrein te klim. “Al die hekke was gesluit en hulle het glo ’n vullisdrom gebruik om oor die muur te kom,” het lt.kol. Thabo Litabe, polisiewoordvoerder, vroeër gesê.


Die polisie en nooddienste is omstreeks 18:00 na die toneel ontbied, waar Thembi dood verklaar is. Die polisie het ook in dié geval ’n geregtelike doodsondersoek geopen. Eugene was ’n kranige sokkerspeler en lid van die Rosedale-sokkerklub op Upington. Geen begrafnisreëlings is bekend gemaak nie.

OFM Nuus het ’n navraag aan Dawid Kruiper-munisipaliteit gerig.

Hoewel waterpret vir ontspanning sorg, hou dit ook verdrinkingsgevare in, veral vir jong kinders. Selfs vlak water kan binne sekondes lewensgevaarlik wees.

Met eenvoudige voorsorgmaatreëls soos swembadheinings, bedekkings en konstante toesig kan lewens gered word, berig Childsafe.

Wenke om kinders veilig te hou

  • Moet nooit kinders sonder volwasse toesig naby water laat nie.
  • Waarsku kinders teen roekelose spel rondom swembaddens.
  • Vermy afleidings wanneer jy toesig hou.
  • Leer KPR vir noodgevalle.
  • Leer kinders om te swem en met klere aan te dryf.
  • Moenie kinders in onbekende water laat duik of spring nie.

Wenke van Netcare 911 

  • Moet nooit kinders alleen in ’n bad los nie.
  • Gebruik glyvaste badmatte en hou toilette toe.
  • Maak baddens, emmers en klein poele ná gebruik leeg.
  • Beveilig visdamme, swembaddens en jacuzzi’s.
  • Maak seker dat tuinwerkers veiligheidsmaatreëls verstaan.
  • Omhein erwe naby riviere en damme.
  • Gebruik altyd reddingsbaadjies tydens bootvaarte.
  • Hou kinders op die strand dop en laat hulle slegs naby lewensredders swem.
  • Leer kinders noodnommers en maak seker dat kinderoppassers dit ook ken.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.