On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Emily 100 – ’n persoonlike indruk

───   13:36 Mon, 02 Nov 2026

Emily 100 – ’n persoonlike indruk | News Article
Tweehonderd meisies van Oranje en Eunice het palmblare te ere van Emily Hobhouse gelê. Foto: Christo van Staden

Die viering in die Rosestad van die Britse humanis Emily Hobhouse se lewe en invloed dwing ’n mens tot besinning.

Op 27 Oktober 1926 het Bloemfontein aan dié gestorwe heldin behoort toe 20 000 mense saamgekom het vir die teraardebestelling van haar as aan die voet van die Vrouemonument. En die afgelope week is inwoners van die stad opnuut herinner aan wat sy gedoen het.

Wat het sy vermag? Sy het sowat 120 jaar gelede die gruwelike vergrype van die Britse Ryk se verskroeideaardebeleid aan die groot klok gehang. En daarin geslaag dat dié beleid in haar vaderland bevraagteken is, en dat ’n meer menslike benadering gevolg is om die lyding van vroue en kinders in konsentrasiekampe te verlig.

Op vreeslose wyse het sy heerssugtige militêre leiers soos lord Horatio Kitchener en politici soos die Kaapse goewerneur lord Alfred Milner uitgedaag. In ’n era toe vroue nie veel sê gehad het nie en in ’n politieke klimaat waarin bevraagtekening van die oorlog nie geduld is nie.

Die Vrystaatse Jeugblaas-ensemble was deel van die optog en verrigtinge. Foto: Christo van Staden

Een kwessie waaroor ek gewonder het terwyl ek na die treffende musiekdrama Die lewe van Emily in die Sand du Plessis-teater gekyk het, was hoe dit kon gebeur het dat mense wat aan die ongeregtighede en wreedheid van die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe onderwerp was, eindelik self ’n brutale politieke stelsel van onderdrukking kon ondersteun.

Of hou dit verband met die ou wysheid: Die onderdrukte van vandag is die onderdrukker van môre?

Ironies genoeg is Hobhouse en haar werk eindelik ook toegeëien deur drywers van ’n nasionalistiese agenda – terwyl haar lewe en werk inderwaarheid juis verset was teen enige ingesteldheid wat mense se menswaardigheid aantas en skend en teen ander diskrimineer.

En vir haar was die Nasionale Vrouemonument, wat die sowat 28 000 Boervroue en -kinders gehuldig het wat in die konsentrasiekampe gesterf het, ’n simbool hiervan.

Akteur Chris Vorster (middel) het die rol vertolk van genl. Jan Smuts en sy toespraak van destyds voorgelees. Foto: Christo van Staden

Hoewel haar gesondheid haar verhinder het om die monument se onthulling op 16 Desember 1913 by te woon is haar toespraak by die geleentheid voorgelees.

Sy het onder meer gesê: “Julle sigbare monument sal hierdie verhewe doel dien – om vir alle Suid-Afrikaners, en veral vir die vroue, ’n bron van inspirasie te wees. Geslag ná geslag sal dit hier staan en deur sy stille welsprekendheid hierdie groot gedagtes tuisbring: Die mag en vryheid wat verwerf is, berus in jul hande en dié van jul kinders.

“Julle moet hierdie heilige gawe nie bloot bewaar nie, maar dit verder uitbrei. Wees barmhartig teenoor die swakkes, die verdruktes en die vreemdeling. Moenie jul poorte oopstel vir die grootste vyande van vryheid – tirannie en selfsug – nie.”

Die toeskouers het die verrigtinge met groot aandag gevolg. Foto: Christo van Staden

Hierdie boodskap het Saterdag 31 Oktober tydens die heropvoering van haar teraardebestelling by die Vrouemonument opnuut weerklink, veral in die vlerkgeklap van die wit duiwe wat vrygelaat is, en in die voetstappe van die tweehonderd meisies van Oranje en Eunice wat palmtakke vir haar neergelê het.

Dit was oomblikke wat die aanwesiges, en ook die duisende mense wat die TV-uitsending gevolg het, hopelik nooit sal vergeet nie. En ’n boodskap wat hopelik weerklank sal vind in hoe ons land en samelewing al ons mense en selfs vreemdes sal hanteer.

Nog ’n gedagte wat by my opgekom het, was oor die wonder van vergifnis. Sommige Suid-Afrikaners kon die Britte gouer vergewe as ander.

Die akteurs in Die storie van Emily ontvang staande applous in die Sand du Plessis-teater. Foto: Christo van Staden

Oor vergifnis het sy gesê: “Ek het gelees toe Christus gesê het ‘vergewe julle vyande’, sê Hy dit nie net ter wille van die vyand nie, maar ook ter wille van jouself, ‘omdat liefde mooier is as haat’. Om haat te koester is noodlottig vir jou eie persoonlike ontwikkeling. Dit laat ’n letsel, want haat vreet, soos roes, aan die siel van ’n volk sowel as aan dié van ’n individu.

‘As huldeblyk aan die gestorwenes, begrawe alle onvergewensgesindheid en bitterheid vir ewig aan die voet van hierdie monument. Vergewe eerder, want julle kan dit bekostig: Die rykes wat nooit genoeg gehad het nie en steeds meer rykdom begeer het; die staatsmanne wat nie in staat was om sake behoorlik te bestuur nie; en die onbekwame generaals wat teen weerloses en babas oorlog gevoer het. Vergewe hulle – want slegs dan kan julle uitstyg tot ware edelheid van karakter en ’n breë, edele volkslewe.

“Want wat werklik saak maak, is karakter. Die geskiedenis leer ons dit baie duidelik.”

Nog ’n sterk boodskap vir Suid-Afrika vandag.

OFM Nuus/Christo van Staden sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.