On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Drie Hoopstad-sussies dans die wêreld oor

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:23 Mon, 02 Nov 2026

Drie Hoopstad-sussies dans die wêreld oor | News Article
Die drie Kleynhans-sussies. Foto veskaf

Wanneer die musiek begin speel, is drie susters van Hoopstad op hul gelukkigste.

Die Kleynhans-sussies deel dalk nie dieselfde persoonlikheid nie, maar hul liefde vir dans bring hulle bymekaar. Carli (13), Leandi (10) en die jongste, Anlia (4), het uitstekend gevaar op die IFAA se SA danskampioenskap van 2 tot 3 Oktober.

Anlia het met ’n indrukwekkende 93% ’n algehele derde plek in die Modern Dance-kategorie vir drie- tot sesjariges behaal. Vir haar was dit ’n besondere prestasie, veral omdat sy die naasjongste deelnemer aan die kampioenskap was, vertel ma Charlene.

Sy het met vier ander dansers meegeding: Die jongste was drie jaar oud, terwyl die ander twee ses jaar oud was. Die twee ouer sussies het elk 88% behaal.

Anlia dans by All About The Beat in Hoopstad, waar Adelé Vorster en Katy Labuschagne haar afrig. Haar weeklikse klasse help haar om haar vaardighede te ontwikkel, maar Charlene glo dat dans op vierjarige ouderdom steeds hoofsaaklik oor die plesier daarvan moet gaan.

Anlia het onlangs 'n indrukwekkende derde plek behaal. Foto verskaf

“Sy moet steeds kan speel, stout wees, lag en net kind wees.” Dans is egter nie net Anlia se passie nie. Carli en Leandi het albei reeds op vierjarige ouderdom hul eerste danseksamen geslaag, terwyl Anlia haar eerste eksamen op drie afgelê het.

Musiek is van kleins af deel van die sussies se lewe en speel byna altyd in die motor of by die huis. Elkeen het egter op haar eie manier ’n liefde vir dans ontwikkel.

Carli en Leandi het Suid-Afrika in 2025 in Tap en Hip Hop in Namibië verteenwoordig en hul internasionale kleure verwerf.

Nou lê daar moontlik nog ’n internasionale avontuur vir al drie susters voor. Ná hul prestasies op die jongste kampioenskappe het hulle die geleentheid om Suid-Afrika in 2027 internasionaal te verteenwoordig.

Saam hulle beste maat, en naas hul ouers hul grootste ondersteuner, Franelle van der Meulen. Foto verskaf

Hulle sou aanvanklik Kanada toe gegaan het, maar Namibië is later ook as ’n meer bekostigbare alternatief bygevoeg. Anlia se prestasie beteken dat sy aan die vereistes voldoen om internasionale kleure te verwerf wanneer sy internasionaal deelneem. Carli en Leandi mag ook deelneem, hoewel hulle nie dié spesifieke erkenning sal ontvang nie.

Die vooruitsig dat die drie susters saam die land op ’n internasionale verhoog kan verteenwoordig, maak dié geleentheid besonder spesiaal vir die gesin. Dit kan boonop ’n gepaste afsluiting van Carli en Leandi se dansloopbane wees omdat die twee ouer sussies beplan om aan die einde van 2026 hul dansskoene op te hang.

Carli dans al vandat sy vier is. Foto verskaf

Om op ’n plaas in die Hoopstad-distrik te woon beteken egter dat danslesse en kompetisies heelwat beplanning verg. Afstande, vervoer, tyd en finansies speel alles ’n rol, veral wanneer reis- en verblyfkoste bykom.

Dinsdae is grootliks rondom die meisies se dansklasse ingerig. Die eerste klasse begin reeds om 12:20, terwyl Carli eers om 17:30 klaarmaak. Tussen skoolwerk, drie kinders en die verantwoordelikhede van die plaaslewe verg dit heelwat organisasie.

Charlene glo egter nie dat kinders se geleenthede beperk moet word deur die dorp of omgewing waarin hulle grootword nie. “Dit wys net weer dat groot drome ook in klein dorpies kan begin,” sê sy.

Hul dansonderwysers speel ook ’n belangrike rol in die meisies se ontwikkeling. “Dit gaan oor veel meer as net danspassies aanleer. Dans help kinders om selfvertroue en dissipline te ontwikkel en leer hulle om met toewyding aan iets te werk waarvoor hulle lief is,” sê Charlene

Leandi gaan aan die einde van die jaar haar dansskoene ophang. Foto verskaf

Daar is natuurlik soms ’n bietjie kompetisie tussen die drie susters, maar Charlene probeer hulle leer dat die een se sukses nie die ander se prestasies minder besonders maak nie. Sy wil hê hulle moet mekaar se grootste ondersteuners wees, op én van die dansvloer af.

Hoewel sy ongelooflik trots is op hul prestasies, is medaljes en internasionale titels nie haar grootste droom vir haar dogters nie. “Ek wil hê hulle moet weet dat dit oukei is om iets met jou hele hart te doen, trots te wees op wat jy bereik het, en dan ook die moed te hê om ’n nuwe hoofstuk te begin,” sê sy.

Die Kleynhans-gesin. Foto verskaf.

Haar grootste wens is dat elkeen van haar dogters hul eie talente sal ontdek, in hulself sal glo en die selfvertroue sal hê om hul drome na te streef.

“Ons maak nie net dansers groot nie. Ons maak drie jong meisies groot wat eendag in hulself moet glo, ook wanneer daar nie ’n verhoog, beoordelaar of medalje is nie.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.