On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vyf verdagtes voor ná wrede aanval op Noordwes-boer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:11 Mon, 02 Nov 2026

Vyf verdagtes voor ná wrede aanval op Noordwes-boer | News Article
Twee van die verdagtes wat aangekeer is weens die aanval op Donovan Marx. Foto: SAPD

Vyf verdagtes sal na verwagting Dinsdag (3/11) voorkom ná die wrede aanval op ’n Noordwes-boer.

Die verdagtes, tussen 26 en 56 jaar oud, staan tereg weens onder meer poging tot moord op Donovan Marx (50), huisroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Hulle sal na verwagting in die landdroshof in Ventersdorp verskyn, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

Twee van die verdagtes is Saterdag (31/10) in die Ventersdorp-omgewing in hegtenis geneem, terwyl nog drie Sondag (1/11) in Promosa naby Potchefstroom aangekeer is.

Die polisie het ook beslag gelê op vier vuurwapens, waarvan een met die aanval verbind word. Klere en juweliersware is ook teruggevind.

Die polisie het ook beslag gelê op vuurwapens en juwele. Foto: SAPD

Die inhegtenisnemings hou verband met die aanval op die beesboer wat Woensdag op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp tydens ’n rooftog oorval en wreed gemartel is.

Die aanvallers het omstreeks 08:00 op die plaas toegeslaan, die elektriese heining geknip en ’n plaaswerker wat gras gesny het, oorrompel en vasgebind. Marx was in daardie stadium by sy beeste en het omstreeks 08:30 na die erf teruggekeer.

“Die aanvallers het Marx die huis binnegedwing en hom gedwing om ’n klein kluis oop te sluit. Daarin was ’n 9 mm-pistool en ’n .38 Special-rewolwer.

“Marx is in die bolyf geskiet en gewond, met ’n mes in sy been gesteek en albei sy ore is afgesny. Die aanvallers het ook met drie vuurwapens uit sy kluis en R6 000-kontant op die vlug geslaan voordat hulle in sy rooi Isuzu-bakkie van die toneel af weggejaag het,” sê Myburgh.

Die plaaswerker het Marx se vrou, wat sowat ’n halfuur se ry van die plaas af was, gebel. Sy het haar saam met haar broer na die toneel gehaas.

Marx is steeds in ’n stabiele toestand in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom, maar sy beserings bly ernstig nadat chirurge ’n gedeelte van sy kolon moes verwyder. Sy familie sê die afgesnyde ore kan nie weer geheg word nie en dat hy later rekonstruktiewe chirurgie sal moet ondergaan.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.