Central SA
Beskuldigde het voorheen op gemartelde boer van Noordwes se plaas gewoon─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:58 Tue, 03 Nov 2026
Een van die beskuldigdes in die saak oor die wrede aanval op ’n Noordwes-boer het voorheen op die slagoffer se plaas gewoon, terwyl ’n ander moontlik ’n staatsgetuie kan word en teen sy medebeskuldigdes kan getuig.
Phindile Alex Namnagcayi (27), Mathaka Godfrey Mathipa (56), Makema Jan Maishane (53) en Thomas Thabo Mathlongtlong het Dinsdag (3/11) in die landdroshof in Ventersdorp verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer poging tot moord op Donovan Marx (50), roof met verswarende omstandighede, aanranding en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Die saak is tot Vrydag (13/11) uitgestel vir ’n moontlike borgtogaansoek. Die beskuldigdes se woonadresse en geskiedenis van vorige veroordelings moet egter eers nagegaan word.
Die hof het ook gehoor een van die beskuldigdes kan moontlik ingevolge art. 204 van die Strafproseswet ’n staatsgetuie word en teen die ander beskuldigdes getuig. Een van die beskuldigdes het glo ook ’n vorige veroordeling, terwyl die ander drie ’n skoon misdaadrekord het.
Die staat gaan die borgtogaansoeke teenstaan. Caswell Ntoyi, die staatsaanklaer, sê indien die beskuldigde wat op die plaas woon, op borgtog vrygelaat word, sal hy nie daarheen kan terugkeer nie. Die ander drie beskuldigdes woon in Promosa, Potchefstroom.
Landdros Trevor Leballo het die erns van die aanklagte beklemtoon en sê die beskuldigdes kan, indien hulle skuldig bevind word, tronkstraf van tussen 15 jaar en lewenslank opgelê word. Die vier mans bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.
Marx is Woensdag (28/10) op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp tydens ’n rooftog wreed gemartel en gewond. Die aanvallers het na bewering omstreeks 08:00 op die plaas toegeslaan, ’n elektriese heining geknip en ’n plaaswerker oorrompel en vasgebind.
Marx is later in die bolyf geskiet, met ’n mes in sy been gesteek en albei sy ore is afgesny. Die aanvallers het onder meer met vuurwapens en kontant op die vlug geslaan. Vyf verdagtes is sedertdien in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op vier vuurwapens, waarvan een met die aanval verbind word, asook klere en juweliersware.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

