Central SA
Dienslewering, paaie en straatligte onder die loep in Kimberley─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:03 Wed, 04 Nov 2026
Dienslewering sal ’n bepalende toets vir die volgende plaaslike regering in Kimberley wees.
Terwyl inwoners Woensdag (4/11) hul kruisies in die munisipale verkiesing trek, is die atmosfeer by stemlokale rustig met geen lang rye of probleme. Met die fokus op wat politieke partye ná die verkiesing vir inwoners wil verbeter.
Frans Reichert van die VF Plus, Reggie Schickerling van die DA, en Gabriel Peters van die Patriotic Alliance is al drie kandidate in wyk 23 van die Sol Plaatje-munisipaliteit. Dit sluit in Royldene, Monument Heights, El Toro Park, South Ridge en Minerva Gardens.
Beter dienslewering
Reichert sê beter dienslewering sal die VF Plus se prioriteit wees. “Ons wil ook aandag gee aan die munisipaliteit se finansies en ’n bestaande pyplyn van projekte wat tot beter dienslewering en groei kan bydra.”
Die DA wil eerder realistiese beloftes maak as om inwoners hoop te gee oor dinge wat moontlik nie uitvoerbaar is nie. “Ons sal op praktiese verbeteringe en beter dienslewering binne die munisipaliteit fokus,” sê Schickerling.

Die Egertonstraat in Kimberley is vol slaggate. Foto: Charne van der Merwe
Peters sê dienslewering, straatligte en die toestand van paaie is van die belangrikste kwessies waaraan aandag gegee moet word. Die Patriotic Alliance werk daaraan om hierdie probleme aan te pak.
Hoewel die drie partye se antwoorde verskil in die besonderhede waarop hulle klem lê, is beter dienslewering ’n gemeenskaplike prioriteit. Vir inwoners van wyk 23 sal die uiteindelike maatstaf egter wees of hierdie voornemens ná die verkiesing in sigbare verbeteringe in hul gemeenskappe omskep word.
Inwoners met wie daar by verskeie stemlokale in Kimberley gepraat is, sê hulle is keelvol vir die toestand van die stad. Hulle is veral gefrustreerd met al die slaggate en vullis wat nie verwyder word nie. Hulle meen die toestand van die paaie en die algemene netheid van Kimberley is kwessies wat dringend aandag nodig het.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

