On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Nuuskierige 12-jarige sterf nadat hy in 26 m mynskag val

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:29 Tue, 24 Nov 2026

Nuuskierige 12-jarige sterf nadat hy in 26 m mynskag val | News Article
Theodore Bahlekazi. Foto verskaf

’n Seun van die Noord-Kaap wat graag die wêreld om hom verken het, se avontuurlustigheid het tragies geëindig toe hy in ’n diep, verlate mynskag geval en sy lewe verloor het.

Theodore Bahlekazi het Maandag (23/11), op sy twaalfde verjaardag, op Carolusberg naby Springbok gesterf nadat hy in ’n gat geval het wat vermoedelik ’n verlate mynskag is. Hy het Saterdag (21/11) by sy ouma aangekom om die skoolvakansie by haar deur te bring, sê Alicia Goliath, sy tannie by wie hy in Clanwilliam gewoon het.

Die leerling aan die Sederberg Primêre Skool het saam met twee maatjies gaan speel toe die ongeluk gebeur het. Die maatjies het dadelik na sy ouma Maria Klaase se huis gehardloop om haar te vertel wat gebeur het.

'Die eerste tou wat gebruik is om in die gat af te gaan, was te kort'

“Die gat is nie ver van my ma se huis af nie. Jy kan die gat letterlik van die woongebied af sien; dit is net ’n paar treë weg,” sê Goliath. Die gat is na bewering sowat 26 m diep.

Sy sê die eerste tou wat gebruik is om in die gat af te gaan, was te kort om Theodore uit te haal, waarna verdere reddingshulp ontbied moes word. Die presiese oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie. “Ons vermoed dat hy moontlik ’n kopbesering opgedoen het.”

Die Noord-Kaapse polisie bevestig die voorval het omstreeks 17:30 plaasgevind. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen nadat die seun se ouma nooddienste ontbied het, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.

’n Soek-en-reddingsoperasie is kort daarna begin. Die distrikstaakspan, Springbok se honde-eenheid en Nama Khoi-reddingsdienste het daaraan deelgeneem. Noodpersoneel wat in die gat afgegaan het, het gesien die seun het noodlottige beserings opgedoen. Die Black Mountain-reddingspan het later by die operasie aangesluit, waarna Theodore se liggaam omstreeks 23:00 uit die gat gehaal is.

Goliath beskryf haar susterskind as ’n avontuurlustige kind wat baie lief was vir diere en sy maatjies. Sy sê hy het maklik vriende gemaak en was besonder passievol oor diere. Die polisie doen ook ’n beroep op gemeenskappe om gevaarlike en onbeveiligde terreine by die betrokke owerheid aan te meld. Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.