On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-man kry 20 jaar tronkstraf vir moord op vriend

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:18 Sat, 07 Nov 2026

Noordwes-man kry 20 jaar tronkstraf vir moord op vriend | News Article
Johnny Potgieter. Foto: Facebook

’n Man van Noordwes is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy vriend vermoor en daarna probeer het om die misdaad te verdoesel.

Johnny Potgieter (30) is Vrydag (6/11) in die Bloemhof-hof gevonnis nadat hy skuld beken het op moord en twee aanklagte van regsverydeling. “Die moord het op 22 Januarie 2024 by die slagoffer se woning plaasgevind,” sê Lindiwe Mabasa, NVG-woordvoerder.

Potgieter en Manie van Tonder (47) het die aand saam deurgebring, maar ’n rusie het tussen hulle ontstaan. Die rede vir die stryery is steeds onbekend. Ná die moord het Potgieter na bewering sy ouers van die voorval vertel. Hulle het Van Tonder se liggaam met ’n steekwond in ’n agterkamer aangetref. Die liggaam was gedeeltelik verbrand.

Bewyse

Hy het ná die moord probeer om bewyse te vernietig deur albei die man se bene te amputeer en hom toe aan die brand gesteek. Hy het ook die muur en die mes wat in die aanval gebruik is, swart geverf.

Die polisie is ontbied en Potgieter is kort daarna in hegtenis geneem. Die mes en bloedbevlekte klere is as bewysstukke deur die polisie ingedien. Adv. Kabelo Mampo, staatsaanklaer, sê die misdaad is besonder grusaam en dat geweldsmisdaad algemeen in die gebied voorkom.


Hy het die hof versoek om die voorgeskrewe minimum vonnis op te lê om as afskrikmiddel vir moontlike toekomstige oortreders te dien. Die hof het egter die beskuldigde se versagtende omstandighede oorweeg en bevind dat dit ’n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis regverdig.

Potgieter is tot 20 jaar tronkstraf vir moord gevonnis, asook twee jaar elk vir die twee aanklagte van regsverydeling. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.