Central SA
Donovan Marx ‘put krag uit geloof’, nou in gewone saal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:18 Wed, 11 Nov 2026
Ná weke van onsekerheid in die hospitaal is ’n plaasaanvalslagoffer van Noordwes van die waakeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas en toon hy goeie vordering ná verskeie mediese prosedures.
Donovan Marx (50) en sy vrou, Louise, is hoopvol oor die pad vorentoe en skryf sy herstel toe aan God se genade, gebed en die toewyding van die mediese personeel. “Dit is ’n getuienis van geloof, hoop, gebed en die buitengewone ondersteuning wat hy ontvang,” sê Louise.
Marx is wreed aangeval in ’n rooftog op 28 Oktober op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp. Die aanvallers het na bewering omstreeks 08:00 op die plaas toegeslaan, ’n elektriese heining geknip en die plaaswerker Christopher Jings oorrompel en vasgebind.
Jings is nie beseer nie, maar Marx is in die bolyf geskiet en met ’n mes in die been gesteek. Albei sy ore is afgesny.

Donovan Marx in die hospitaal. Foto verskaf
Hy het ook ernstige interne beserings opgedoen, waaronder skade aan sy nier en kolon. ’n Gedeelte van sy kolon moes verwyder word.
Sy familie het op 3 November bevestig dat hy ’n mediese terugslag beleef het wat verdere behandeling en ondersoeke genoodsaak het. Hy was egter ondanks dié terugslag in ’n bestendige toestand.
Sy ore kon nie geheg word nie en hy sal waarskynlik later rekonstruktiewe chirurgie nodig hê.
Put krag uit geloof
Luidens ’n mediaverklaring deur sy regsverteenwoordigers put Marx te midde van sy herstel krag uit sy geloof. Twee Bybelgedeeltes het vir hom besondere betekenis gekry. “Efesiërs 6:12-15 herinner hom aan die geestelike stryd en die belangrikheid daarvan om die volle wapenrusting van God aan te trek.
“Psalm 150 se woorde, ‘laat alles wat asem het, die Here loof’, is ook vir hom ’n bron van krag.”
Die Marx-egpaar sê die ondersteuning van familie, vriende, medegelowiges en talle mense wat hulle nog nooit ontmoet het nie, het hulle deur die moeilike tyd gedra. Hulle is dankbaar vir gebede, boodskappe, etes, besoeke en aanbiedinge van mediese, verblyf- en finansiële hulp.
Hulle bedank veral ook die boeregemeenskap van Ventersdorp en omstreke vir hul hulp met die soektog na die verdagtes en hul volgehoue ondersteuning.
Intussen duur die strafregtelike proses teen die vier verdagtes voort. Phimdile Alex Nomngcayi (30), Thomas Thabo Motlhonglong (27), Mothoka Godfrey Mathipa (56) en Mokhema Jan Maishone (53) het Dinsdag 3 November in die landdroshof in Ventersdorp verskyn in verband met die aanval.
Hulle staan tereg op aanklagte wat insluit poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, aanranding en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Nomngcayi het voorheen op die Marx-egpaar se plaas gewoon. Een van die ander verdagtes kan moontlik ’n staatsgetuie word en teen sy medebeskuldigdes getuig.
Die saak is tot Vrydag (13/11) uitgestel vir ’n moontlike borgtogaansoek. Die beskuldigdes se woonadresse en vorige veroordelings moet eers nagegaan word.

Donovan en Louise Marx. Foto verskaf
Die Marxe het ook hul dank uitgespreek teenoor die mediese span by Mediclinic Potchefstroom en kapt. Bonita Dry, bevelvoerder van die Ventersdorp-speurtak, en haar span vir hul ondersoekwerk.
Die egpaar sê die hospitaalpersoneel het hulle deur van die moeilikste oomblikke van hul lewe bygestaan. “Julle het ons geestelik en fisiek gedra. Julle het ons staande gehou. Ons sien die ingrypende hand van ons Hemelse Vader.”
Aanbiedinge van hulp kom steeds in, selfs van mense wat hulle nog nooit ontmoet het nie. Marlene Steyn du Toit, die familie se prokureur, doen intussen ’n beroep op die publiek om die ondersoek en regsproses te respekteer en nie inligting bekend te maak wat die strafsaak of getuies kan benadeel nie.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

