Central SA
Nog ’n verjaardag, maar steeds geen antwoorde oor Dylan se dood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:17 Thu, 12 Nov 2026
Terwyl Dylan Bothma se familie nog ’n verjaardag sonder hom vier, wag hulle steeds op antwoorde oor wat werklik met hom gebeur het.
Hulle wil seker maak die jong man van Heidelberg in Gauteng se lewe en die herinneringe aan hom word nie deur die omstandighede van sy dood oorskadu nie. Hy sou Sondag (15/11) 22 jaar oud geword het.
Sy ma, Elsie Bothma, gaan dié dag gebruik om haar seun te onthou en na te dink oor die lewe wat hy nog voor hom gehad het. “Daar is geen woorde wat die leemte kan beskryf wat Dylan se afwesigheid laat nie.
“Hy is nie net nog ’n naam of nog ’n statistiek nie. Hy was ’n geliefde seun, kleinseun, broer en vriend. Hy was iemand met ’n besondere glimlag, ’n sagte hart, ’n goeie sin vir humor en ’n liefde vir musiek en sy kitaar.

Die verjaardag bring egter ook weer die onbeantwoorde vrae oor sy dood na vore. Foto verskaf
“Hy was die een wat met sy grappies en lag ’n vertrek kon vul. Hy was deel van die gom wat sy familie bymekaar gehou het.”
Dylan was 18 toe hy in 2023 ’n tienerpartytjie bygewoon het. Hy is daarna ernstig beseer gevind en is op 25 Junie in die hospitaal oorlede. Hoewel die voorval aanvanklik as ’n tref-en-trap-ongeluk beskou is, het inligting wat later by die familie uitgekom het, volgens hulle op moontlike aanranding voor die voorval gedui.
Op 22 sou daar moontlik nuwe drome, ervarings en planne op hom gewag het. Elsie dink steeds aan die plekke wat hy sou wou besoek, die musiek wat hy nog kon maak en die herinneringe wat hulle saam kon skep.

Dylan is al meer as drie jaar oorlede. Drie jaar sonder antwoorde vir sy familie. Foto verskaf
Pleks van ’n verjaardagviering saam met haar seun, sal sy vanjaar weer ’n kers ter nagedagtenis aan hom aansteek. Dit is haar manier om die lig en vreugde wat hy in hul lewens gebring het, te onthou.
Die verjaardag bring egter ook weer die onbeantwoorde vrae oor sy dood na vore. Vir Elsie is hierdie stryd nie bloot ’n saaknommer of ’n ondersoekdossier nie. Dit gaan oor haar kind en ’n lewe wat nie teruggebring kan word nie.
“Ek vra nie dat mense my pyn moet verstaan as hulle dit nie self beleef het nie. Ek vra net dat iemand moet dink hoe dit moet voel om jou kind vir ’n verjaardagpartytjie te groet en hom nooit weer by die huis te verwelkom nie. Om vir meer as drie jaar met vrae te leef en steeds nie die antwoorde te hê waarna jy so desperaat soek nie.
“Dylan verdien dat sy storie gehoor word. Hy verdien dat elke moontlike leidraad opgevolg word. Hy verdien geregtigheid.”
Meer as drie jaar later is die familie steeds op soek na antwoorde. Elsie sê hulle het nie hul soeke laat vaar nie en doen steeds ’n beroep op enigiemand wat moontlik inligting het om na vore te kom. “Selfs al is dit iets kleins, vra ons asseblief dat mense ons sal kontak,” sê sy.
Die verlies bly steeds onbeskryflik, veral op dae soos Dylan se verjaardag, wanneer hul gesin se besef van alles wat hy nog moes beleef, weer sterk na vore kom.

Die familie wil hê Dylan se nalatenskap moet veel groter wees as die omstandighede van sy dood. Hulle wil hê mense moet die jong man onthou wat geliefd was, musiek geniet het en ’n belangrike deel van hul lewens gevorm het.
Enigiemand met inligting oor die gebeure van 24 en 25 Junie 2023 kan Elsie Bothma by 084 209 2879 nader of www.justicefordylan.co.za besoek.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

