On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Chubby Chick: Bejaarde het glo vuurwapen gaan haal ná konfrontasie oor ‘vergiftiging’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:13 Mon, 23 Nov 2026

Chubby Chick: Bejaarde het glo vuurwapen gaan haal ná konfrontasie oor ‘vergiftiging’ | News Article
Johnathan en Deon Fourie. Foto's: Facebook

Die man wat na bewering twee Noordwes-sakebroers doodgeskiet het, het glo voor die skietery sy vuurwapen gaan haal nadat hy hulle daarvan beskuldig het dat hulle hom probeer vergiftig het.

Robert Joubert (75) het glo dié weergawe van die gebeure in ’n evaluering aan Claire Hearne, ’n sielkundige, vertel. Hy word daarvan beskuldig dat hy Jonathan Fourie (52) en sy broer Deon (55), direkteure van die Chubby Chick-hoenderonderneming in Potchefstroom, verlede jaar op 10 November geskiet het.

Jonathan is op die toneel dood, terwyl Deon op 14 Desember weens komplikasies van sy skietwonde oorlede is. Hearne het Woensdag (18/11) in die streekhof in Potchefstroom getuig oor Joubert se weergawe van die gebeure soos wat hy dit aan haar vertel het, sê Johan le Grange, die Fourie-familie se prokureur.

Robert Joubert. Foto: X

Joubert het van Parys in die Vrystaat na Potchefstroom gery vir ’n afspraak met die broers. Hy het aanvanklik sy sakke en selfoon by sy vriendin se werkplek gelos en sonder ’n vuurwapen by die afspraak opgedaag.

Daar het hy die broers gekonfronteer oor sy oortuiging dat hulle hom sou probeer vergiftig. Ná die gesprek het hy glo gevoel asof hy “op die rand van ’n afgrond staan”. Hy het na haar werkplek teruggekeer en sy Beretta uit sy tas gaan haal. Hy het die vuurwapen by sy broek ingesteek en met sy baadjie probeer versteek.

Sleutels

Volgens Hearne het Joubert gevoel hy moet homself of die broers doodskiet omdat hy nie meer so kon aangaan nie. Hy het daarna na die Chubby Chick-kantore teruggekeer en glo vir die broers gesê dat hy sy sleutels in die raadsaal vergeet het. Luidens sy weergawe het hy hulle na die raadsaal geneem, waar hy albei geskiet het.

’n Veiligheidswag het hom tydens die voorval in albei arms geskiet om hom buite aksie te stel. Joubert se weergawe verskil egter van Chubby Chick se beskrywing van die gebeure, waarvolgens Deon eerste in die raadsaal geskiet is. Jonathan het glo die vertrek binnegegaan om sy broer te hulp te snel, waarna hy ook geskiet is.

Chubby Chick-skieter: Twee aanklagte  van moord by klagstaat gevoeg | News Article

Deon en Johnathan Fourie saam met hul pa, John. Foto verskaf

Joubert erken dat hy die broers geskiet het, maar sê dit was uit noodweer omdat hy vas geglo het hulle probeer hom vergiftig. Hearne het getuig Joubert ly aan drogbeelde, vervolgingswaan en psigose. Sy het bevind dat hy, hoewel hy skynbaar die regsproses verstaan, weens sy waandenke moontlik nie rasioneel tot sy eie verdediging kan bydra nie.

Die verdediging doen daarom aansoek dat Joubert na ’n geestesgesondheidsinrigting verwys word vir verdere sielkundige en psigiatriese waarneming. Dit moet help bepaal wat sy geestestoestand is en of hy geestelik in staat is om aan die strafregtelike verrigtinge deel te neem en homself te verdedig.

Voorafbeplanning

Hester Pretorius, staatsaanklaer, het egter tydens kruisondervraging aangevoer daar is duidelike aanduidings van voorafbeplanning. Sy het daarop gewys Joubert het reeds drie dae voor die skietery die afspraak met die broers gereël en die Beretta ’n paar dae voor die voorval uitgeteken. Hy het ook met die vuurwapen na die kantore teruggekeer, dit versteek en glo ’n verskoning gebruik om weer toegang tot die raadsaal te kry.

Chubby Chick-skietery: Gestorwe direkteur se lewe dan gevier | News Article

Johnathan en Nadine Fourie. Foto: Facebook

Pretorius het dit bevraagteken of hy werklik in ’n toestand van sinsbedrog was en sê Joubert het die optrede vooraf beplan. Hearne erken dat dit moontlik is dat hy tydens die skietery nie gehallusineer het nie, maar meen dit is onwaarskynlik. Sy het beklemtoon dat haar bevindinge op sy eie vertellings gegrond is.

Joubert het glo jare lank geglo mense, insluitend die oorledenes se pa, John Fourie, het hom probeer vergiftig. Ná Fourie se dood het hy vermoed dat die broers dié beweerde vendetta voortgesit het.

Pretorius het Hearne ook van selektiewe verslagdoening beskuldig. Sy het dit ontken en gesê sy het alle tersaaklike inligting ingesluit. Joubert se broer het na bewering vir die sielkundige verslag betaal.

Le Grange sê die saak is tot 9 Desember uitgestel. Die hof sal dan die verdediging se aansoek oorweeg om Joubert na ’n geestesgesondheidsinrigting vir verdere evaluering te verwys. Die hof sal na verwagting op 21 Januarie uitspraak oor die aansoek lewer.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.