On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Cricket

Vrystaatse ster maak indruk in eerste Proteas-wedstryd

───   MORGAN PIEK 08:34 Thu, 08 May 2025

Vrystaatse ster maak indruk in eerste Proteas-wedstryd | News Article
Miané Smit. Foto: SLC

Die Vrystaatse veelsydige speler, Miané Smit, het Woensdag haar senior buiging vir Suid-Afrika gemaak tydens die 23-lopie nederlaag teen Indië in Colombo – ’n dag wat sy beslis nie sal vergeet nie.

Indië het eerste gekolf en 337/9 in hul 50 boulbeurte aangeteken, met Jemimah Rodrigues wat uitgeblink het met 123 lopies, insluitend 15 viere. Deepti Sharma het 93 aangeteken, met tien viere en twee sesse in haar beurt, terwyl Smriti Mandhana 51 bygedra het.

Suid-Afrika het dapper teruggeveg met die kolf, maar is uiteindelik tot 314/7 in hul toegelate 50 boulbeurte beperk.

Dit was ’n moeilike dag vir die Proteas, aangesien hul kaptein, Laura Wolvaardt, op die nippertjie weens siekte moes onttrek. Baie verantwoordelikheid het dus op die skouers van die jonger spelers, sowel as die waarnemende kaptein vir die wedstryd, Chloe Tryon, gerus.

Annerie Dercksen. Foto: Cricinfo

Hoewel Smit ’n bietjie gesukkel het met die bal, het sy tydens die Proteas-vrouekrieketspan se kolfbeurt beïndruk. Sy het 39 lopies aangeteken en vyf viere in haar beurt geslaan.

Die Vrystaatse Vrouespeler van die Jaar het slegs twee boulbeurte voltooi tydens haar buiging en is vir 20 lopies geslaan, maar sy het beslis haar stempel afgedruk met die wilgerlat. Al was dit haar eerste wedstryd op die hoogste vlak, het sy nooit ongemaklik of senuweeagtig op die kolfblad gelyk nie.

Smit het ná die wedstryd aan OFM Sport gesê dat sy, hoewel sy voor die toer senuweeagtig was, baie gemaklik gevoel het toe sy moes gaan kolf.


“Ek was so rustig die hele dag en dit was so lekker, en ek is baie dankbaar dat daar nie senuwees was nie,” het die 20-jarige Smit gesê.

“Ja, noudat ek ’n bietjie geproe het van internasionale krieket, is ek net lus vir soveel meer. Ek is lus om weer te kolf, om beter te word met die boulwerk, met die veldwerk – ja, en om meer saam met die Proteas te speel.

“Dit was rêrig net ’n voorreg.”

Suné Luus en Chloe Tryon. Foto: SLC

Intussen het die oud-Vrystaatse veelsydige speler, Annerie Dercksen, weereens beïndruk met die kolf. Toe Suid-Afrika in ’n moeilike posisie was, het sy ’n pragbeurt van 81 gespeel om aan Suid-Afrika ’n kans op oorwinning te gee. Dit was haar hoogste telling nóg in internasionale eendagkrieket, en saam met Tryon het sy ’n paar groot sesse geslaan.

Dercksen het in haar beurt 80 balle getrotseer en vyf viere asook twee sesse geslaan. Tryon, wat tot die einde dapper met die kolf geveg het, het 67 van 43 aangeteken, met vier viere en vyf groot sesse.

Die Proteas se kanse om die eindstryd van die driehoekige reeks te haal, is verby, maar hulle sal môre hul toer afsluit wanneer hulle teen die gasheer, Sri Lanka, te staan kom.

OFM Sport/Morgan Piek cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.