Central SA
Sonkraggebruikers moontlik in Nersa se visier─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:07 Sun, 29 Nov 2026
Suid-Afrikaners wat in sonkrag belê het om hulself teen onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening te beskerm, kan moontlik voor nuwe administratiewe verpligtinge en toekomstige finansiële druk te staan kom.
Nuwe reëls van Nersa is in die Staatskoerant gepubliseer en mense is nou bekommerd oor die registrasie van sonkraginstallasies. “Daar is ook vrese dat munisipaliteite dié inligting kan gebruik om bykomende heffings op sonkrageienaars in te stel,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum.
Die burgerregteorganisasie bevraagteken die wettigheid van die nuwe reëls wat voorsiening maak vir die daarstelling van registers waarin elektrisiteitsverspreiders, waaronder munisipaliteite en private verspreiders, besonderhede van elektrisiteitsopwekkingsinstallasies met ’n kapasiteit van hoogstens 100 kW moet aanteken.
Dit kan beteken eienaars van sonkragstelsels word verplig om inligting en stawende dokumentasie oor hul installasies aan hul elektrisiteitsverspreiders te verskaf.
Mostert sê daar is egter ernstige regsprobleme met die nuwe bepalings. “Die reëls is teenstrydig met die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006, waarvan art. 2A(2)(c) opwekkingsinstallasies met ’n kapasiteit van hoogstens 100 kW uitsluitlik van die wet se toepassing uitsluit.”
AfriForum het reeds op 13 Augustus in ’n formele voorlegging aan Nersa hierdie beweerde teenstrydigheid onder die reguleerder se aandag gebring. “Nersa kan nie reëls instel wat teenstrydig is met die einste wetgewing waaraan hy sy bevoegdheid ontleen nie. AfriForum sal met sy regspan oorleg pleeg om te bepaal watter stappe gedoen kan word om hierdie reëls te betwis.”
'Munisipaliteite is afhanklik van elektrisiteitsverkope'
Hoewel Nersa die registrasievereistes as ’n maatreël beskryf om die veiligheid en betroubaarheid van die elektrisiteitstelsel te beskerm, waarsku AfriForum dat die nuwe registers ook vir ander doeleindes aangewend kan word.
Deidré Steffens, adviseur vir plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê munisipaliteite is histories baie afhanklik van elektrisiteitsverkope om hul bedrywighede te finansier. Namate meer huishoudings, boere en ondernemings na sonkrag oorskakel, kan hierdie inkomste egter onder druk kom.
Sy sê dit kan munisipaliteite toegang gee tot inligting wat moontlik gebruik kan word om bykomende vaste heffings, beskikbaarheidsfooie of ander sonkragverwante koste in te stel.
AfriForum waarsku ook baie munisipaliteite beskik moontlik nie oor die nodige administratiewe kapasiteit om die nuwe registrasievereistes doeltreffend te hanteer nie. Dit kan tot vertragings, onnodige rompslomp en verdere frustrasie vir verbruikers lei.
“Suid-Afrikaners behoort nie toestemming van wanfunksionele munisipaliteite te hê om hulself teen ’n onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening te beskerm nie. Hulle behoort ook nie met bykomende heffings gestraf te word omdat hulle op eie onkoste in alternatiewe energie belê het nie.”
OFM Nuus dg
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

