General
Vandag in die Nuus: 20 September 2022─── 17:48 Tue, 20 Sep 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 20 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 41 en 81, is vanoggend in die Vrystaat en Gauteng deur die Valke in hegtenis geneem.
Bloemfontein Courant berig Valke-woordvoerder in die Vrystaat, Christopher Singo, sê diegene wat in hegtenis geneem is, sluit 'n voormalige hoof van die departement van sport, kuns en kultuur en twee voormalige munisipale bestuurders van die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit in.
Die verdagtes sal na verwagting Woensdag in die hof verskyn, waar hulle teregstaan op aanklagte van bedrog, diefstal, oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
Singo voeg by nog arrestasies word verwag.
’n Vrystaatse munisipaliteit wat tans die skade aan infrastruktuur moet hanteer ná die Jagersfontein-mynramp, staar meer finansiële probleme in die gesig.
Die sukkelende Kopanong Plaaslike Munisipaliteit het sy werkers, krediteure, en raadslede in kennis gestel dat salarisse wat op die 30ste September betaal sou word, vertraag gaan wees a.g.v. kontantvloeiprobleme.
In 2021 het dié munisipaliteit vir minstens 3 maande versuim om sy 450 werkers en krediteure te betaal, nadat 'n Vrystaatse Hooggeregshofregter sy bankrekening gevries het weens skuld van meer as R25 miljoen.
Eskom hoop om vandeesweek reeds die eerste kragverskaffingsooreenkoms te onderteken. Dit sal beteken dat bykomende krag so gou as moontlik na die kragnetwerk gevoer kan word.
Die kragverskaffer het drie programme bekendgestel om kragreserwes aan te vul. Die gesamentlike impak van die programme sal na verwagting meer as duisend megawatt tot die kragnetwerk voeg, wat die vlak van beurtkrag sal verlaag.
Fase Vyf beurtkrag word op die oomblik toegepas.
Die Dawid Kruiper-munisipaliteit is nog nie deur die Departement van Gesondheid genader oor mense wat gehospitaliseer is omdat hulle water van swak gehalte ingeneem het nie.
Dit is luidens dié Noord-Kaapse munisipaliteit se direkteur vir siviele dienste, Padwald Jonker, wat sê water in Upington is veilig om te gebruik.
OFM-nuus het vroeër berig dit volg nadat AfriForum in ’n plasing op sy webtuiste inwoners van Upington gewaarsku het om nie beweerde “besmette water” te drink nie.
Die organisasie het watermonsters geneem nadat inwoners oor die water se kleur en reuk gekla het.
AfriForum sê die water is by ’n geakkrediteerde laboratorium getoets.
LUISTER:
