General
Duif 'pienk gekleur vir geslagsonthullingspartytjie'─── 14:58 Thu, 02 Feb 2023
'n Duif wat uit 'n park in New York gered is, is moontlik helder pienk gekleur vir 'n geslagsonthullingspartytjie, sê 'n natuurbewaringsgroep.
Die jong duif is in Manhattan se Madison Square Park gevind en het tekens van wanvoeding getoon. Dit is gered en na die Wild Bird Fund vir behandeling geneem.
BBC berig die nie-winsgewende rehabilitasie- en opvoedingsgroep het gesê die duif is doelbewus gekleur.
Pink pigeon found in NYC park was 'deliberately dyed' for gender reveal: rescue group https://t.co/ruUvjl4CzY pic.twitter.com/VtamSMkCqL
— New York Post Metro (@nypmetro) January 31, 2023
In antwoord op een gebruiker se vraag op Twitter, oor hoekom iemand so iets sou doen, het die Wild Bird Fund verduidelik dat "geslagsonthullings in gewildheid toeneem".
Geslagsonthullings is 'n tradisie wat in die VSA begin het, waar verwagtende paartjies 'n partytjie hou waartydens die geslag van hul kind voor die geboorte aangekondig word.
Dikwels is daar 'n seremonie, soos 'n koek wat gesny word of 'n ballon wat gebars word, waarvan die blou of pienk inhoud dan die baba se geslag onthul.
Wild Bird Fund het gesê hulle sal die duif 'n paar keer bad om die kleurstof te probeer verwyder, maar hulle hoop dat die voël maar sy vere sal afskud en dat dit sal teruggroei. Hulle het verder bygevoeg dat mak voëls nooit in die natuur vrygelaat moet word nie.
"Dit sal van hongersnood sterf of gevang word," het die groep gewaarsku.
Die groep rehabiliteer jaarliks meer as 7 500 siek, beseerde of weesdiere voordat hulle weer in New York vrygelaat word.
