On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

General

Stakende verpleegpersoneel weier ambulans toegang

───   14:40 Wed, 08 Mar 2023

Stakende verpleegpersoneel weier ambulans toegang | News Article
PHOTO: IPSS Medical Rescue

Stakende verpleegpersoneel in KwaZulu-Natal word daarvan beskuldig dat hulle 'n ambulans toegang tot 'n hospitaal geweier het.

IPSS Medical Rescue sê een van hul ambulanse se personeel is aangeval deur stakende verpleegpersoneel terwyl hulle 'n kind in 'n kritieke toestand na die Stanger-hospitaal vervoer het.

Woordvoerder Samantha Meyrick sê die ambulans is Woensdagoggend by die ingang van die hospitaal omsingel.

Sy sê die betogende werkers het probeer om die kind met geweld uit die ambulans te neem. "Gelukkig het spanne daarin geslaag om, nadat hulle aangerand is, met die pasiënt deur te kom."

Meyrick sê die stakende werkers het later die ambulanspersoneel vir langer as 'n uur verhinder om die perseel te verlaat. Sekuriteitspersoneel en polisie het eindelik opgedaag en hulle na buite begelei. Sy sê een bemanningslid is beseer nadat hy aangerand is.

Die vakbond Nehawu se provinsiale woordvoerder, Ayanda Zulu, ontken stakende werkers jaag pasiënte en werknemers weg, intimideer of dreig hulle. Dit is ten spyte daarvan dat hy gesê het hy is nie bewus van dié voorval in KwaDukuza nie.

Hy hou vol hul betogings by die openbare hospitale in KZN is vreedsaam.

"Ons stel ons regmatige eise. Dit is iets waaroor die departement sedert gister praat."

Die vakbond het Maandag begin met 'n staking in die openbare sektor oor die regering se besluit om eensydig 'n loonverhoging van 3% in werking te stel.

Vakbonde regoor die sektor het dit verwerp en hou voet by stuk en eis 10% en 'n behuisingsubsidie. Zulu sê hulle sal nie terugdeins nie.

"Ons gaan nie aanvaar dat ons deur die werkgewer geboelie word nie. Ons gaan volhou totdat daar aan ons eise voldoen word."

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.