On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

General

Mpumalanga-gesondheidsdienste terminaal siek – VF Plus

───   12:20 Thu, 23 Mar 2023

Mpumalanga-gesondheidsdienste terminaal siek – VF Plus | News Article
FOTO: Alon Skuy/New Frame

Beweringe van erge nalatigheid in drie staatshospitale in Mpumalanga wat glo tot die dood van ’n jong ma gelei het, moet dringend ondersoek word.

"Indien dit waar is, moet Mpumalanga se LUR vir Gesondheid, Sasekani Manzini, volle verantwoordelikheid vir die gebeure aanvaar."

Die Vryheidsfront Plus beweer in ’n persverklaring die 22-jarige Marisca van der Merwe is oorlede nadat sy vermoedelik septisemie in die Bethal-staatshospitaal opgedoen het.

Sy het glo in Desember 2022 'n keiser-operasie in dié hospitaal in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit ondergaan en geboorte geskenk aan 'n dogtertjie.

Ná die operasie het haar familie hul kommer uitgespreek oor die feit dat haar wond septies geraak het. Die verpleegpersoneel het die wond wel met soutwater skoongemaak en antibiotika toegedien.

Volgens familielede het sy vir etlike weke ná die operasie siek gevoel en erge buikpyn ervaar.

Sy is aan die begin van Maart na die Evander-staatshospitaal gehaas waar sy volgens familie glo weggewys is om na 'n kliniek te gaan.

Op 6 Maart is sy na die Witbank-hospitaal (in die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit) gebring nadat sy gekla het dat sy nie kan asemhaal nie.

Die hospitaal was volgens die familie vuil met opsigtelike menslike oorskot en bloed in die gange en op beddens. Sy is weer huis toe nadat sy vir etlike ure glo geen hulp ontvang het nie.

Verlede week is sy weer inderhaas na die Witbank-hospitaal geneem waar sy opgeneem is. Sy is kort na haar opname oorlede.

Volgens die VF Plus is 'n dringende vergadering met die LUR versoek en sal 'n volledige verslag rondom die geskiktheid van die hospitaalpersoneel in al drie die hospitale gevra word. "Die swak toestand van staatshospitale in die land is bekend en indien die bewerings gestaaf word, sal die LUR direkte verantwoordelikheid moet aanvaar vir Van der Merwe se dood."

Die LUR sal glo veertien dae gegun word om die verslag uit te reik. "Die VF Plus gaan nou alle druk op die LUR plaas. Haar departement is terminaal siek. Ons sal die aangeleentheid onverpoos volg en sal verdere ondersoek instel sodat die betrokke amptenare tot verantwoording geroep word."

Persverklaring

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.