General
Spesiale dag vir ’n besonderse vrou – jou ma─── 13:36 Wed, 10 May 2023

Die moontlikhede vir Moedersdag is eindeloos. Die kern bly egter om jou ma te bederf en vir haar te wys hoeveel sy vir jou gesin beteken.
Vir die wêreld is jy dalk net ‘n ma. Maar vir jou kinders en jou gesin is jy die hele wêreld. Dié gesegde slaan die spyker op die kop, en daarom is dit belangrik om waardering vir jou ma te wys.
OFM het ’n paar wenke om dié Moedersdag besonders te maak. Luidens die skrywers van die gewilde webtuiste, www.countryliving.com, Erin Cavoto en Terri Robertson, is die moontlikhede vir Moedersdag eindeloos. Die kern bly egter om jou ma te bederf en vir haar te wys hoeveel sy vir jou gesin beteken.
- Eet saam: Jy kan haar bederf met ’n ontbyt in die bed, of kook vir haar ’n ete van haar gunstelingkosse, of neem haar na haar gunstelingrestaurant.
- Doen iets saam met haar waarvoor sy lief is: Kies ’n aktiwititeit waarvan sy hou of wat een van haar stokperdjies is. Gaan stap saam met haar, doen ’n kunswerk saam of kyk saam met haar een van haar gunstelingflieks.
- Moet dit nie oordink nie. Bring gehaltetyd saam met haar deur. Solank jy daarin slaag, is dit perfek.
Die Amerikaanse blogskrywer Sarah Shuda van www.giftster.com sê hoewel enige ma graag bederf wil word is dit nie nodig om geld te bestee nie. Sy gee die volgende idees:
- Maak die huis vir jou ma skoon. Help haar met een van die take waarvan sy gewoonlik die minste hou, sorteer vir haar ’n paar kaste uit of sorg dat al die wasgoed gedoen is.
- Laat haar ’n tydjie alleen geniet sodat sy ’n boek kan lees of ’n lang ononderbroke bad kan vat – veral as sy klein kindertjies het.
- Sê vir jou ma jy is lief vir haar. Soms is dit die mees betekenisvolle woorde wat sy kan hoor.
Nóg ’n kreatiewe idee kom uit die pen van die blogskrywer van www.thespruce.com, Debby Mayne.
Maak vir jou ma haar eie kruietuin met mikro-kruie in ’n hoekie van die kombuis – veral as jou ma lief is om kos te maak en van geure hou. Plant die verskillende kruie in verskillende houers en maak mooi etikette daarvoor.
(Bronne: www.countryliving.com, www.giftster.com en www.thespruce.com)
OFM Nuus het 'n splinternuwe Facebook-blad nadat boosdoeners ons ou blad gekaap het. Besoek https://bit.ly/OFMnuusFACEBOOK om op die hoogte van nuusgebeure in Sentraal-Suid-Afrika, die res van die land en wêreld te bly.