On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

General

Help – my kind maak moeilik maats

───   08:31 Thu, 06 Jul 2023

Help – my kind maak moeilik maats | News Article
Foto: Unsplash/Greyson Joralemon

Vir kinders is ’n wonderlike deel van grootword om maats te hê. Dit dra by tot mooi herinneringe, ’n gevoel van behoort en sommer net lekker pret.

Maar dit kan ook baie sleg wees as jou kind nie maats het nie, of sukkel om maats te maak.

OFM Nuus het met Simone Vink, ’n kliniese sielkundige van Bloemfontein, hieroor gesels.

Simone Vink gee raad aan ouers

Simone Vink gee raad aan ouers. Foto verskaf

“Ons het almal ’n sekere hoeveelheid sosialisering nodig om goed gebalanseerde individue te wees. Ook diegene wat introverte is,” sê Vink.

Soms is dit vir ouers nodig om in te gryp wanneer hulle kinders met sosialisering sukkel.

Sy sê wanneer jy kan sien jou kind word angstig met sulke interaksie, of hulle gedrag verander drasties, is daar dalk hulp nodig.

“Ouers moet ook altyd openlik en eerlik met kinders kan gesels en op so manier bewus raak indien daar bydraende faktore is wat die sosiale angs vererger. Dit kan miskien iets wees wat by die skool tussen maats gebeur,” sê Vink.

Sosiale vaardighede begin reeds by die huis op ’n baie jong ouderdom. Foto: Unsplash/Michal Bozek

Dit is wel belangrik om te onthou dat ’n verskeidenheid faktore aanleiding gee tot meer uitdagende sosialisering.

Sommige kinders is vanself introverte en dit is heeltemal reg so.

“Maar boeliegedrag kan ook ’n rol speel daarin. En huislike omstandighede ook. Wanneer daar baie spanning of emosionele uitbarstings in die huis is, kan dit ook ’n negatiewe invloed op jou kind hê.”

Voorts sê Vink daar is ook sekere diagnoses, soos outisme, angs en depressie wat kan maak dat kinders sukkel om maats te maak.

Dit is daarom belangrik om ’n kundige se raad in te win wanneer jy oor jou kind se sosiale vaardighede bekommerd is.

Nog ’n belangrike aspek vir ouers om in ag te neem is dat sosiale vaardighede reeds by die huis op ’n baie jong ouderdom begin.

“Wanneer jou baba begin om gesigte en stemme te herken, begin sosialisering. Dit is daarom ’n goeie idee om kinders van vroeg af reeds aan gesonde sosiale omstandighede bloot te stel.”

Vink sê voorbeelde hiervan is om tyd saam met ander mamma’s of pappa’s wat ook kinders van min of meer dieselfde ouderdom het, deur te bring.

“Ouers moet ook met hulle kinders praat, al is hulle baie klein en hulle nog nie woorde verstaan nie. Nog ’n groot hulpmiddel is om jou kind toe te laat om hulle omgewing te verken, sonder om deurlopend negatiewe kommentaar te lewer. Jy kan hulle ook aanmoedig om tyd saam met familie en vriende deur te bring waarmee jy en hulle gemaklik is.”

As hulle ouer is, is daar oulike bordspeletjies en kaarte om saam te speel.

As hulle ouer is, is daar oulike bordspeletjies en kaarte om saam te speel. Foto: Corné Greyvenstein

Sy sê een van die belangrikste metodes om jou kind sosiale vaardighede te leer, is om met hulle te speel. Om met jou kind te speel, moet nooit ophou nie.

“Die metode van speel kan dalk verander soos hulle ouer word. Maar moet nooit ophou speel nie. As hulle ouer is, is daar oulike bordspeletjies en kaarte om saam te speel.”

Vink sê skole kan ook op ’n vlak intree en leerlinge met sosiale vaardighede help.

“Onderwysers kan kinders aanmoedig om hulle klasmaats beter te leer ken. Skole help reeds daarmee soos wanneer konserte geoefen word of dansgroepe gestig word.”

Sy sê dit sal ook baie behulpsaam wees indien skole geen boeliegedrag verdra nie en dit baie ernstig opneem en optree daarteen.

Sy sluit af deur te sê sommige kinders is meer teruggetrokke of introverte van aard en geniet dit om alleen te wees. Maar wanneer sosialisering angs veroorsaak of erge negatiewe emosies by jou kind ontlok, kan dit dalk nodig wees om in te gryp.

OFM Nuus/Karen van der Berg


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.