On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

General

Werner de Jager hoor later in Februarie oor borgtog

───   KAREN VAN DER BERG 15:01 Tue, 06 Feb 2024

Werner de Jager hoor later in Februarie oor borgtog | News Article
Werner de Jager. Foto verskaf

“Hulle skep die indruk dat die moord nie die gemeenskap seergemaak het.”

Die tronkdeure sal vir eers vir nog ’n paar dae toe bly vir die moordverdagte Werner de Jager (45), wat beskuldig word van die moord op sy domineevrou.

Ds. Liezel de Jager was predikant van die NG Gemeente Suidkus in KwaZulu-Natal toe sy in Oktober 2021 in die pastorie se oprit vermoor is. Sy is verwurg en haar keel afgesny.

Werner, die beskuldigde, staan tereg op ’n aanklag van moord met voorbedagte rade. Hy word ook aangekla van twee sake van bedrog. Die borgaansoek het Maandag (5/2) en Dinsdag in die landdroshof op Amanzimtoti plaasgevind.


Werner de Jager sal eers later vandeesmaand weet of hy borgtog gaan kry. Foto verskaf

Landdros Zama Nyuswa het na die finale argumente geluister en die saak tot 22 Februarie uitgestel waartydens sy die borgaansoek se uitspraak sal lewer.

Ian Cameron van Action Society het al die inligting aan OFM Nuus bevestig. Hy sê groot groepe mense het die afgelope twee dae buite die hof saamgedrom en geëis dat borgtog aan De Jager geweier word.

Cameron sê hulle is bly die saak het al gevorder tot waar dit is en hulle hoop om later in Februarie te hoor dat Werner agter tralies sal bly. “Dit is duidelik dat dit nie in die gemeenskap se belang is om hom uit die tronk te laat kom nie. Hy het al soveel leuens vertel en minstens twaalf keer probeer selfmoord pleeg.”

‘Die gemeenskap is verpletter’

Hy sê dit was regtig sleg met hoeveel minagting Werner se regspan oor die uitwerking van die moord op die gemeenskap gepraat het. “Hulle skep die indruk dat die moord nie die gemeenskap seergemaak het nie. Dit is snert. Die gemeenskap is verpletter.”

Die hof het Maandag gehoor dat Werner van nog twee moorde aangekla word weens ’n noodlottige ongeluk verlede jaar op die N1 naby die Koppies-afrit in die Vrystaat waarin twee vroue gesterf het.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.