General
Inskrywings vir Avbob se 2027-poësiekompetisie open op 1 Augustus vir digters in elf landstale─── SUSAN MARÉ 11:17 Wed, 22 Jul 2026
Digters kan van 1 Augustus tot 30 November vanjaar gedigte in al elf Suid-Afrika se amptelike tale inskryf vir Avbob se digkunskompetisie.
Die jaarlikse Avbob-poësieprojek is in 2017 as ’n landwye literêre projek bekendgestel. Dit wil deur poësie ’n stem gee aan mense wat verlies beleef. Die vyf temas is liefde, dood, geboorte, hoop en nuwe beginne.
Die projek het uit Avbob se eeufeesviering ontstaan, met die aanvanklike doel om honderd gedigte oor verlies, liefde, hoop en nuwe beginne te versamel. Dit het intussen tot ’n omvangryke kulturele en historiese onderneming ontwikkel. Deur inskrywings in moedertale aan te moedig, bevorder Avbob volgens sy webwerf Suid-Afrika se taalerfenis en help dit om kulturele verdeeldheid te oorbrug.
Geldpryse is op die spel en elf wenners word jaarliks tydens ’n galageleentheid gekroon. Alle gepubliseerde gedigte word in die permanente Avbob Poësiebiblioteek opgeneem, wat reeds bykans 30 000 gedigte bevat.
Avbob se uitvoerende hoof, Adriaan Bester, sê die diepte en eerlikheid van die inskrywings raak hulle jaarliks. “Wanneer ons diep emosioneel geraak word, hetsy deur vreugde of verdriet, is ons soms sonder woorde. Dan wend ons ons tot poësie vir moed, berusting en helderheid.
“Die doel van Avbob se poësiekompetisie was om ’n platform te skep waar alle Suid-Afrikaners hul diepste emosies in hul eie taal kan uitdruk. Ná ’n dekade getuig ons argief van ’n gesprek tussen digters en lesers.”
Daniël Hugo, redakteur en beoordelaar van die Afrikaanse gedigte, sê die literêre waarde van die projek lê daarin dat redakteurs die inskrywings in al elf tale vir publikasie keur. Die gedigte kom daarna vir pryse in aanmerking. Die wengedigte word jaarliks in die gedrukte bloemlesing I Wished I’d Said opgeneem.

Die wengedigte van Avbob se poësiekompetisie word jaarliks in ‘n gedrukte bloemlesing opgeneem. Foto verskaf
“Net die bestes word gekies, wat ’n standaard vir toekomstige deelnemers stel. Gemiddeld haal slegs tien persent van die inskrywings die paal. Avbob se poësiebank verskil van ander aanlyn platforms waar min of geen keuring plaasvind nie.”
Volgens Hugo leer digters daardeur dat nie alles wat neergeskryf word vanselfsprekend goeie poësie is nie.
“ ’n Goeie gedig getuig altyd van taalkennis en verstegniese vaardigheid. Dit is nie bloot ’n uitstorting van gevoelens of gedagtes nie.”
Digters moet wyd lees om die eienskappe van oortuigende digkuns te verstaan. Duisende gedigte is gratis op Avbob se webwerf beskikbaar. “Dit is besonder bevredigend om dit wat jy ervaar en voel bondig te verwoord. Dikwels ontdek jy tydens die skryfproses ook dinge omtrent jouself.”
Die grootste uitdaging is om temas soos liefde, vreugde, hoop, verlange, afskeid, hartseer en dood oorspronklik deur rym, ritme en beeldspraak uit te beeld. “Om oorspronklik te wees, moet ’n mens wyd belese wees.
“Jy moet weet hoe jou voorgangers en tydgenote dieselfde temas uitgebeeld het. Lees hulle en doen dan anders. Elke digter moet ’n eie, herkenbare stem ontwikkel. ‘Vars’ en ‘nuut’ is die wagwoorde.”
Die kompetisie het reeds prominente en nuwe digters opgelewer. Lynthia Julius was die eerste wenner van die Afrikaanse afdeling en het daarna twee bekroonde bundels gepubliseer. Jennifer Pape, Caren Kearley en Maritha Broschk was ook pryswenners wat later eie bundels uitgegee het.

Net die beste gedigte word in die bloemlesings opgeneem. Foto verskaf
Hugo moedig veral jong mense aan om in te skryf omdat die kompetisie ’n geleentheid vir aanlyn publikasie bied. “As jou gedig aanvaar word, gee dit ’n aanduiding van die standaard wat jy bereik het. Handhaaf jy die gehalte van die gekeurde verse, kan jy uiteindelik ook ’n gedrukte boek by ’n erkende uitgewery publiseer.”
Digters mag tot tien gedigte aanlyn inskryf. Die beste drie gedigte in elke taal word in die jaarlikse bloemlesing opgeneem. Gedigte op die kortlys word ook in Engels vertaal om begrip en gedeelde gevoelens tussen Suid-Afrikaners te bevorder.
Avbob se sosialemediaplatforms bied wenke van beoordelaars, terwyl werksessies op die Avbob Poetry-webtuiste nog opleiding verskaf. Alle reëls, voorwaardes en kriteria is op die webtuiste verkrygbaar.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

